Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Atisja en Dharmakirti" deur HENNING PIETERSE
"Atisja en Dharmakirti" deur HENNING PIETERSE [boodskap #40421] Di, 20 Maart 2001 02:50
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Atisja en Dharmakirti
Henning Pieterse

Van jongs af het Atisja geweet
daar is geen sin in rykdom nie.
In Indië en Tibet het hy hom gepuur,
op nege en twintig reeds ryk in sy saffraankleed.

Honderd sewe en vyftig onderwysers
het hom onderrig oor meegevoel, liefhê,
die helderste lig van self aflê
en hoe om liggaam en verstand te isoleer.

Saam met honderd vyf en twintig studente
het hy dertien maande lank na Indonesië gevaar,
na Dharmakirti van Suvarnadvipa,
die meester in die leer van onselfsugtigheid.

Tydens die reis moet hulle die leviatan trotseer,
toe storms, wat hy ná drie weke kon stop
deur die kragte van meegevoel uit te spreek,
die skreeuende demone van die liefde te besweer.

Toe hulle land in Suvarnadvipa
het hulle studente op die strand sien mediteer.
Voordat hulle die meester sou ontmoet
het hulle veertien dae lank eers saam geleer.

Atisja het Dharmakirti 'n kristalvaas geskenk,
gevul met goud, silwer, pêrels, beril en koraal.
Hy het gesê : Vul nou my liggaam en verstand
Met gedagtes en wysheid uit u bokaal.

Atisja het geleer dat die liggaamlike leeg is,
die leegheid ook die liggaamlike is,
dat leegheid niks anders as die liggaamlike is nie,
en die liggaamlike niks anders as leegheid nie.

Twaalf jaar lank het hy die essensie van die saak,
die helder verstaan, bestudeer en geleer.
Hy en Dharmakirti het soos lote inmekaargegroei;
twaalf jaar lank, elke nag, het hul kussings aan mekaar geraak.
Vorige onderwerp: "Die aard van verstaan" deur CHARL-PIERRE NAUDE
Volgende onderwerp: "Opdrag" deur HENRI LAURIE
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 11:20:35 MGT 2024