Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Uit "Gebed om die Gebeente" deur D.J. OPPERMAN
Uit "Gebed om die Gebeente" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #40131] Ma, 12 Maart 2001 12:50
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Uit “Gebed om die Gebeente”
D.J. Opperman

Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen 'n doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: “Ek het hom as matroos hier aan die kus...”
“Ek: as stoker op 'n trein...” “Ek: in vaal-geel ligte
van 'n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien....”
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel... blink gesteentes! Selfs dan... Nee, miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente,
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.

Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en duim
die wit son rol en skitter in 'n diamant,
sou hy in Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant.
Maar hy móés sterf: die Dood het self hom eers gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op 'n plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf...
toe 'n tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir 'n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak.

En ná die skynverhoor het hulle hom vertel....
voor Graaff-Reinet se sel. O Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
O Graaff-Reinet se sel... Eségiël! Eségiël!
.............
Vorige onderwerp: "Ou Foto" deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: "Die aard van verstaan" deur CHARL-PIERRE NAUDE
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 15:23:25 MGT 2024