Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Fort Snelling Deel 1
Fort Snelling Deel 1 [boodskap #24387] Do, 01 Julie 1999 00:00
Errol Back-Cunningham  is tans af-lyn  Errol Back-Cunningham
Boodskappe: 1029
Geregistreer: Augustus 1996
Karma: 0
Senior Lid
On Wed, 30 Jun 1999 20:30:02 +0200, "Johann de Jager"
wrote:

|
|vertel ons meer van jou museum. Ek, vir een,
|sal meer daarvan wil weet.

Ons was die naweek by 'n ou historiese fort hiernaby (reg langs die
lughawe - so 15minute se ry van die huis af). Nou ja, oor die
algemeen is museums en historiese plekke nie iets wat my baie
opgewonde maak nie, maar baie mense het Fort Snelling al by ons
aanbeveel. Op pad van die parkeerterrein af gaan 'n mens deur 'n
besoekerssentrum wat ondergronds begrawe is, sodat daar nie moderne
geboue te naby aan die fort is nie. Binne is die gebruiklike toeriste
winkeltjie en 'n groot film teater waar elke halfuur 'n film oor die
fort aangebied word en dan ook die toonbank waar jy jou
ingangskaartjies koop. Jy kry 'n kaart van die terrein en die dame
waarsku jou dat binne die hekke van die fort, jy teruggaan in tyd na
die jaar 1827 - die mense daarbinne is volgens daardie tyd aangetrek
en leef daarbinne volgens 1827 se gewoontes.

Vandaar af stap jy so 200 meter na die fort toe, waar daar 'n soldaat
jou inwag. Hy kyk dat jy betaal het en vertel jou watter dinge watter
tyd gaan gebeur. Tydens ons besoek was daar byvoorbeeld die afvuur
van die kanon en die dokter se "sick call" vir die soldate. Ons is
eers na die hospitaal toe - net betyds vir die dokter se spreektyd.
Die ou het regtig sy storie geken - ek reken hy is of 'n afgetrede
historikus of 'n afgetrede dokter. Hyself, terwyl hy met jou gesels,
- en jy kan hom enige tyd vrae vra - tree op asof hy in 1827 is en jy
'n besoeker uit die toekoms is. Met die hoogste uitsondering sal hy
dalk sê "You will know that as aspirin" of so iets. Verder "verlaat"
hy nooit sy rol van 'n 1827 dokter nie.

Terwyl daar so 20 besoekers om hom in sy spreekkamer sit, kom die een
siek soldaat in en die dokter verduidelik hoe hy die man vir
ongestelde maag behandel en wat sy eie vlak van kennis is en dit was
maar baie primitief. Al die groot uitvindings in die medisyne sou
eers meer as vuftig jaar later volg. Hy sê ook, ouens wat daardie tyd
oud geword het, het oud geword omdat hulle sterk gestelle gehad het en
nie omdat hulle goeie mediese hulp kon kry nie.
Wat interesant was, was sy statistiek oor alkoholisme. In 1827 was
dit die hoogste wat dit nog ooit in Amerika se geskiedenis was.
Vandaar het die Temperance Society ontstaan waar mense petiesies
geteken het dat hulle minder sou drink en die wat geheel en al sou
ophou, het 'n "T" langs hulle name geskryf vir "Totally abstain" en
vandaar die term van 'n "T-totaller".

Die plaaslike boer het ook ingekom met 'n gekneusde arm wat in 'n
houtspalk gesit is. Die res van die dag kon jy hom in die fort sien
rondloop met die een arm in 'n slingerverband. Ons het 'n goeie
halfuur by die dokter gesit en vrae vra. 'n Mens voel eers aardig om
met so 'n "akteur" te praat, want hy hou nooit op om deur die dag sy
rol te speel nie, maar as jy dit eers aanvaar, raak jy dit gou gewoond
en dan aanvaar jy maar die ou is in 1827.

Vandaar is ons na die winkeltjie waar die vrou half Skots en half
Indiaan was en ons suikerkristalle op 'n stokkie en koue koeldrank kon
koop (dit was buite 40°C). Daar was natuurlik al die outentieke
artikels en 'n groot 1827 pryslys (Lang leer stewels vir $4 - 'n
soldat het $5 per maand gekry).

Toe is ons almal nader geroep vir die afvuur van die kanon - eers
versamel al die besoekers om die kanon en hulle vertel hoe dit gaan
werk en wat hulle doen. Dan staan almal weg en skiet hulle 'n
loskruit skoot af (sonder kanon koeël).

(word vervolg....)
Vorige onderwerp: Re: Fort Snelling Deel 2
Volgende onderwerp: SA familie in Kanada het dringend hulp nodig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 09 19:30:44 MGT 2024