Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Oordenkings by 'n rooi robot" deur CHARL DURAND
"Oordenkings by 'n rooi robot" deur CHARL DURAND [boodskap #22936] Sa, 15 Mei 1999 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Oordenkings by 'n rooi robot in johannesburg,
dele een tot drie
Charl Durand

Deel een

hier's 'n span wat hul verkoopsvernuf uithaal:

nee dankie, ek's nie honger nie
ek het nie kitsgom nodig nie
my girlfriend koop haar eie blomme

en hou jou pamflette vir jouself!

so jy's honger? soek werk!
drie kinders en 'n swanger vrou? dra 'n kondoom
god bless? wel dankie

too bad, daar slaat die robot groen
maar hier's my toebroodjies, gou!
my appel gaan ek hou.

*****

Deel twee

rooi robotte is te kort vir meditasie. hulle hou jou net lank genoeg
daar om posters en advertensieborde te kan lees. motoriste kyk nie
vir mekaar by rooi robotte nie, hulle is soos atlete in wegspringblokke,
opponente maar tog ordentlik. maar wag, daar vang ek jou tog!
jy't skalks vir haar gekyk, gewonder hoe haar kar ruik en wat haar
selfoonnommer is. en watter liedjie wat nou oor haar motorradio
speel sy saam mee neurie. as julle wegtrek probeer jy haar nommerplaat
memoriseer, eintlik vergeefs, maar toemaar, die volgende rooi robot
is reeds aan't naderkom.

****

Deel drie

skemer by 'n rooi robot. aan my linkerkant is 'n begraafplaas. dis 'n
ou een, daar lê hensoppers begrawe. en 'n kleinneef van paul kruger.
as ek lank genoeg hier staan, eindig ek dalk tussen hulle, dink ek.
in die begraafplaas se parkeerarea staan 'n ry blink insleepvoertuie
en wag vir die nag se prooi. agter my probeer 'n ambulans deur die
verkeer druk om oor die rooi robot te ry sodat hulle iemand kan gaan
red. iemand bel op my selfoon en vra: is jy besig? ek sê nee, ek trek
net gou hier by die begraafplaas in dan gesels ons.
Vorige onderwerp: "Septemberkind" deur MARLISE JOUBERT
Volgende onderwerp: "nuwe hemp" deur CHARL DURAND
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 06:46:47 MGT 2024