Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » "Gedenknaalde wat haak" deur JULIAN DE WETTE
"Gedenknaalde wat haak" deur JULIAN DE WETTE [boodskap #22350] Wo, 07 April 1999 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
GEDENKNAALDE WAT HAAK
Julian de Wette

Hulle is almal koper en tin en yster en lood
binne die smeltoond; silwerskuim het hulle geword.

Byna elke groot stad ter wêreld
het sy eie Martelaarsplein waar die wreedheid
van die ou dae uit baksteen, brons, beton en teer
vir herdenkings opgerig word.

In Buenos Aires sit die moeders sonder seuns
op die Plaza de Mayo; en in Beiroet word hul plein
vir die soveelste maal herbou;
terwyl die bloed van martelaars en aspirante
op Tianamen gemeng word.

Is daar in Kampala iets wat ons herinner
aan die krokodil-gesmul van Amin se teenstanders?
Is Moskou se Rooiplein vir die bloed benoem?
Wat skuil eintlik agter die Washington Memorial?

In die Kaap staan daar 'n kasteel op die plein
met sy Buren en Katzenellenbogen;
maar oorkant Blouberg lê 'n eiland
wat die mense sal laat dink
dat 'n ongeslypte diamant
meer kosbaar is as 'n reuse ornament.
Op 'n plattelandse treinstasie
staan 'n denkmaal vir die nasie;
'n Slegs vir Blankes bank waarop niemand sit.

Dan is daar die stede, sulke verlate plekke
waar die mens en sy metgesel van euwel
losbandig saamgespeel het:
Anne Frank se huisie langs 'n grag in Amsterdam,
Bergen-Belsen, Buchenwald, Dachau en Ravensbrücke -
waar name glad die vel in sweet laat uitslaan.

Gaan daar 'n plein wees in Rwanda?
In die oerwoud van die Kongo?
Vir die volksmoord in Afganistan?
Vir die Ibo’s in Biafra?
Die slagoffers van die Juntas?
Vir die vragte, vragte skedels in Kambodja?
en die selfvergoding oral om ons heen?
En wat nog van die bome waaraan soveel toue hang?

Of in Joegoeslawië
waar broer teen broer, teen suster
teen kind se vrou en man se ma opstaan
om te wys hoe sulke boosheid sonder toom
as vaandel bo-oor die land gehys word.
Ons droom van die markpleine op Kalinin en Sarajevo
waar hulle grawe na die hede en verlede -
waar slagoffers, daarby offisiere, verhewe staan
bó die gebalsemde lyk van Lenin wat nog steeds
op 'n ruim-versierde katafalk bly lê.

Die pynlike jaloesie wat afgryslik uiting vind
in die Franse Rewolusie laat ons dink
aan Genghiz Khan se hordes
wat die wêreld en sy mense so laat skrik het -
vanaf Japan in die Ooste en die Midde-Asië steppe,
tot Europa en so ver soos Timboektoe.

Hoewel Kain se moord op Abel
sonder gedenksteen staan,
wek die kruishout van ons Here plotseling sy Woord
as snykant van 'n skerpgemaakte swaard:

Voedsel sal jy wees vir die vuur;
jou bloed sal binne-in die land wees;
aan jou sal nie meer gedink word nie.
Vorige onderwerp: Afrikaans op die nuusgroep
Volgende onderwerp: "Kennismaking" deur ELISABETH EYBERS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Jun 10 01:01:33 MGT 2024