Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » "Portret" deur MARLISE JOUBERT
"Portret" deur MARLISE JOUBERT [boodskap #19288] Sa, 21 November 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Portret
Marlise Joubert

beminde korthaarmaniak
uit die stad van monumente
ek stuur vir jou enkele beelde
uit die kaartjies vasgeplak
teen verbleikte mure van my kunskamer
hier teen die helling van die laaste middagson
wat soet met binnebasstroop teen my rug afloop
deur blou kuberruimtes sweef jou troosbrief
(eroties inderdaad, my liefste!)
en raak my tergend teen die lip se gladde huid
die holte van my voet my bors en ja
my vingers suig ook vaster in jou mond
daarom stuur ek terug:
klein portrette teen my muur -
hier is een van die liggeelvrou
wat met handdoek oor haar kuite vee
daar is een van 'n sagte hart (uit fluweel?)
met juis 'n monument in die kern staangemaak
en hier 'n groen blaar kersierooi be-aar
vertakkings van Red Data and Etcetara
regs daarvan klein kalbassies
(met sade binne saad?)
op die kaartjie Red Rubber Highway rus
die reuse ronde blokke rots -
hulle kan ook kleiner skrotums wees -
hoe sal ek weet?
dan is hier sogenaamde Kunsdinge
oor die Rare, Precious, Banal
en Popular: 'n bos oranje tulpe
'n pop se rubberbeen, 'n padda, 'n speelgoedmotor
'n gouegrasfiguurtjie, 'n dosie uit ivoor, 'n rare knoop,
'n skulp, die stokkies van 'n drom, en ag, hoe mooi -
die wit patroontjiewaaier van 'n vrou
(eenkeer op 'n warm aand by 'n dans
terwyl sy wag, vir 'n minnaar dalk?)
daar is soveel hier waarvan ek kan vertel
maar eintlik maak dit nie veel saak
want jou trooswoorde groei
in kontoere van my lyf en ek vou om jou
ek troos my in dié troos:
eendag sal ek geil
besitlik warm
my sagte bas
ritmies om die binnesap
van jou lyf bly vou
bly vou

(ongepubliseerde nuwe verse)
Kopiereg voorbehou deur
Marlise Joubert
Vorige onderwerp: HELIKOPTER ONGELUK IN PHALABORWA OMGEWING
Volgende onderwerp: al weer 'n briefie vir oorle oom kaspaas
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 29 09:54:02 MGT 2024