Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die vriendelike taal
Die vriendelike taal [boodskap #17595] Vr, 18 September 1998 00:00 na volgende boodskap
Kobus Pietersen  is tans af-lyn  Kobus Pietersen
Boodskappe: 358
Geregistreer: April 1998
Karma: 0
Senior Lid
http://www.twisted.co.za/page/afrikaan/index.htm

Hoe leer ek Afrikaans?
World of Learning se Afrikaanskursus vir R999 .
Telefoon: 0927-11-880 372 Faks: 0972-11-788 9883 E-pos: pi...@icon.co.za

Ywer uit onverwagte oord
Matilda Smith vertel van haar vennoot, Gladys Setlalentoa van
Mangaung, wie se toewyding en werkywer 'n Afrikaanse boekeskat vir haar
leerlinge en gemeenskap help besorg het.
GEDURENDE die tagtigerjare het die neiging begin ontstaan om
Afrikaans en die fondament waarop hierdie taal gebou is, binne 'n breër
perspektief te plaas. Hoewel mense toe reeds besef het dat Afrikaans sy dak
nie oor net 'n sekere groep mense span nie, kon bitter min akademici wat
hulle in die hartjie van die Afrikaanse departemente aan universiteite
bevind het, voorsien hoe wyd en ver die bakens van Afrikaans in die
daaropvolgende dekade versit sou word.

Hierdie uitskuif van grense word nie net beleef in die toename
in studentegetalle van nie-moedertaalsprekers wat Afrikaans as
universiteitsvak neem nie, maar ook in die mate waarin hierdie
nie-moedertaalsprekers Afrikaans in hul eie gemeenskappe begin bevorder.

Een so 'n persoon is mev. Gladys Setlalentoa, 'n deeltydse
student aan die Universiteit Vista. Sy is 'n graad 3-onderwyseres aan
Daluxolo Primêre Skool in Mangaung. Sowat 'n jaar gelede het sy haar
behoefte teenoor my uitgespreek om 'n Afrikaanse biblioteek in Mangaung te
vestig. Haar rede hiervoor was primêr om leesstof aan haar leerlinge te
verskaf. Dit is egter vir haar ook belangrik om aan die breër gemeenskap van
Mangaung die geleentheid te bied om Afrikaanse boeke en tydskrifte te lees.

Ons het besluit om saam met 'n projek te begin en op die daad is
die breinkind van mev. Setlalentoa "Die Mangaung Biblioteekprojek" gedoop.
Hierna is Die Volksblad genader: Binne twee maande het ons vanweë die
omvattende publisiteit en kleurfoto's sowat 12 000 boeke ingesamel. Van
hierdie boeke is reeds deur mev. Setlalentoa verwerk in toneelstukkies wat
haar leerlinge by ouetehuise in Mangaung en Bloemfontein opgevoer het. Die
insamelingsproses van die hope boeke en die uitstappies na die ouetehuise is
deur die Stigting vir Afrikaans geborg.

Die Mangaung Biblioteekprojek dien as 'n vertrekpunt vir
navorsing van die Universiteit Vista se departement Afrikaans in
Bloemfontein waar Afrikaanse lesmateriaal vir skole deurgaans geëvalueer en
onderhoude met leerlinge gevoer sal word. Uit hierdie ontmoeting van die
universiteit met die gemeenskap wat hy dien, kan waardevolle navorsing volg.

Verdere ontwikkelings soos die vestiging van leeskringe kan ook
uit die projek spruit. In hierdie verband word daar met die UOVS se
departement Afrikaans onderhandel. Die samewerking tussen universiteite en
verskillende dissiplines is belangrik vir hierdie projek. Met die nuwe
benadering tot onderrig wat Kurrikulum 2005 impliseer, pas die projek goed
in by die nuwe uitkomsgerigte doelwitte wat gestel word.

Mev. Setlalentoa was nog altyd 'n voorstander van die idee dat
haar leerlinge nie passiewe aanhoorders van Afrikaans moet wees nie. Dit is
vir haar baie belangrik dat die kinders aktief deelneem aan klasaktiwiteite.
In die verlede het mev. Setlalentoa graag haar skoolkinders na Vista se
Afrikaansdae gebring om hul Afrikaanse vaardighede te slyp.

In onlangse koerantberigte is verwys na die tekort aan handboeke
by skole en die voorstel dat onderwysers hul eie lesmateriaal sal moet skep.
Mev. Setlalentoa het hier al vooruitgeloop sodat ons tydig toestemming van
READ (Read, Education and Development) gekry het om hul lesmateriaal (wat
ontwikkel is binne die raamwerk van die Uitkomsgebaseerde Onderrigprogram)
te vertaal en te kopieer. Die gevolg van mev. Setlalentoa se strategiese
denke was dat haar Afrikaans-leerlinge van die eerste skooldag in 1998 kon
wegspring met die nodige lesmateriaal wat daarop gemik is om motoriese en
denkvaardighede te bevorder. Drie kwartale se werk moet egter nog verwerk en
gekopieer word.

Na aanleiding van die aktiwiteite by Daluxolo het 'n ander
onderwyseres, hierdie keer van 'n tradisioneel bruin skool in Wieganida, die
Koot Niemann Primêre Skool, laat blyk dat sy hulp nodig het om werklik
gehalte-onderrig te gee. 'n Diktaat van sowat 140 bladsye is gekopieer wat
die hele jaar se werk betrek. Die onderwyseres van wie ek hier praat, is
mev. Leonie Boshoff, 'n graad 4-onderwyseres wat haar hele gesin betrek by
die ontwikkeling van lesmateriaal. Die koste het sy tot nou toe self gedra.
Sy kombineer onder andere hand-, naald- en verfwerk met haar lesmateriaal.

Die vermelde twee onderwyseresse het hulle bereid verklaar om
ander leerkragte by te staan met die kennis wat hulle reeds ingewin het en
die materiaal wat hul reeds ontwikkel het. Sodra daar geld beskikbaar is om
'n gebou te huur waar die sowat 12 000 boeke behoorlik gebruik kan word (die
boeke is tans nog by READ), sal die lokaal ook dien as ontmoetpunt waar
onderwysers kennis en lesmateriaal kan uitruil. Dit is duidelik dat
Kurrikulum 2005 baie kreatiwiteit en eie inisiatief gaan vereis om
lesmateriaal te ontwikkel wat uitkomsgerig is.

Ek glo dat as Afrikaans-departemente aan universiteite betrokke
raak by skole en onderwysers in die ontwikkeling van onderrigmiddels, ons
met 'n wenresep sit om Afrikaans vinnig op koers te kry binne die nuwe
onderwysbedeling.

Dit lyk asof Afrikaans een van die uitdagendste tye en daarmee
saam een van die opwindendste tye tegemoetgaan. Dit is nie net van oor die
water dat hande gevat wil word nie, soos deur ons stamlande België en
Nederland. Ook in ons townships word die markiestent vir Afrikaans opgerig.
Anders as in 1976 slaan die inwoners van die townships hierdie keer self die
tentpenne in.

Matilda Smith is verbonde aan die departement Afrikaans van die
Universiteit Vista.
Re: Die vriendelike taal [boodskap #17629 is 'n antwoord op boodskap #17595] Sa, 19 September 1998 00:00 Na vorige boodskap
Griet  is tans af-lyn  Griet
Boodskappe: 45
Geregistreer: November 1996
Karma: 0
Volle Lid
Kobus,
Dankie vir hierdie wonderlike positiewe bydrae. Baie geluk en baie sukses
vir almal wat betrokke is. Dis nou rerige goeie en lekker nuus hierdie. Kan
'n mens nie aan die mense skryf nie? Groete.
Vorige onderwerp: Kan iemand my vertel.........
Volgende onderwerp: gaaf tuisblad
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Jun 17 12:32:48 MGT 2024