Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Hoe vlieg die dae daarheen....
Hoe vlieg die dae daarheen.... [boodskap #17546] Wo, 16 September 1998 00:00
Henry van Zyl  is tans af-lyn  Henry van Zyl
Boodskappe: 30
Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
Volle Lid
Soos 'n blom van die gras, sê die Prediker. Die Amerikaanse Indiane (of
dan Native Americans) vergelyk 'n mens se lewe met die wasem van 'n
buffel se neus op 'n wintersdag. Kortstondig en vlietend. Skaars nuwe
gedagtes. Ewe onoorspronklik die opmerking dat die tyd daarheen vlieg en
vinniger verdwyn as wat moontlik lyk.

Kan nie glo dis al byna 'n jaar sedert ek op hierdie nuusgroep my
indrukke weergegee het van die (vir ons!) nuwe land waarin ek my bevind
nie. Toe waas dit byna Halloween en Thanksgiving, wat die begin is van
die "holidays" hier in die die VSA. Ek onthou hoe ons in Suid-Afrika
altyd in die eerste helfte van die jaar 'n opstapeling van openbare
vakansiedae en langnaweke gehad het (is dit nog so?) en 'n skaarste
daaraan in die laaste ses maande. Hier in die VSA word openbare
vakansiedae feitlik altyd so geplaas dat dit op 'n Maandag val;
uitsonderings is die November-vakansiedae en natuurlik Kersfees en
Nuwejaar.

Ieder geval. Op pad werk toe ry ek verby verskeie plase. Vanoggend sien
ek die eerste keer hierdie seisoen Halloween-versierings op een van die
plaashekke: groot pampoenspookgesigte op die plaashek. Die afgelope
naweek het die eerste groot oranje pampoene by die plaasstalletjies
verskyn, en in die groot winkelsentrum waar ons gewonlik ons inkopies
doenhet die Halloweenwinkels oornag verskyn. Dis nogal 'n rare
verskynsel. Op 'n dag stap jy daar in en dan is daar 'n winkel of twee
wat niks anders verkoop nie as Halloweentoebehore: trick or treat houers
vir die kinders; kostuums en allerhande ander spookagtige parafernalia.
Die ergste is dat ek nie kan onthou watse winkel was daar VOOR Halloween
nie. En dan, begin November, is die winkel weer weg. Ek herinner my
daaraan om op te let watter winkel daar gaan wees na Halloween, maar
omdat dit alles so gewoon is, let ek dit nie eens op nie. Seker maar
ouderdom!

Jammer oor die duiwelse inhoud en agtergrond van Halloween. En, uit
Protestantae oogpunt, so ironies dat dit Hervormingsdag voorafgaan - en
oorskadu.

En dan is die winkelrakke ook stadigaan besig om Kersversierings uit te
stal. Ek het ook nou die dag die eerste Kersfeeskatalogus in die pos
ontvang. Natuurlik word in die VSA seld direk na Kersfees verwys; op
polities korrekte wyse word Kersfees deur "Holiday" vervang. So kry jy
"holiday tree", "holiday card" en so aan. Aan die ander kant word Hanuka
en Kwanzaa by name genoem en gepropageer. As jy wil, kan jy allerhande
motiewe daaragter soek; dalk kry ook.

Oor die komende winter word ook druk bespiegel. La Nina (El Nino se
opvolger) gaan glo verantwoordelik wees vir 'n baie kwaai winter. Ten
minste volgens die Old Farmer's Almanac. Die koerant is meer omsigtig.
Gister berig ons plaaslike koerant dat die komende winter koud of warm
en nat of droog gaan wees. Gewis 'n raak voorspelling, wat elke
moontlikheid dek! Verlede winter was hier in Pennsylvania glo alles
behalwe winter, en van my kollegas was erg ontsteld oor die feit dat
daar beswaarlik sneeu geval het. Dis nou in vergelyking met drie jaar
gelede, toe ons hier 36 duim sneeu gehad het - toe was ons nog nie hier
nie. Verlede jaar het state soos Maine in elk geval die ergste ysstorms
ooit gehad. Kanada het ook erg deurgeloop, soos ek onthou.

Hierdie land beleef die ergste uiterstes van klimaat wat ek nog beleef
het. Texas het vroeër vanjaar byna geknak onder ongehoorde hitte en
droogte; nou oorstroom gedeeltes van daardie staat tot so 'n mate dat
gisteraand se nuus 'n insetsel gehad het oor die muskietplaag wat nou
ontstaan as gevolg van die baie staande water. Die grootste gevaar hier
is nie malaria nie, maar enkefalitis (hoop ek spel dit reg - ek het nie
'n Afrikaanse woordeboek hier nie!)

Ons sal as gesin in November rede hê om Danksegginsdag (Thanksgiving) te
vier Dit sal ons eerste hier wees as volledige gesin (minus ons getroude
dogter in SA). Die inhoud wat ons daaraan sal gee sal waarskynlik effe
anders wees as dié van die Amerikaners, maar daaroor sal ek berig
wanneer ons nader aan die tyd gekom het.

Groetnis uit Newtown, Pennsylvania.
Vorige onderwerp: Afrikaansmagtige Persoon van die jaar
Volgende onderwerp: "Huisbesoek" deur I.L. de VILLIERS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 17 16:43:22 MGT 2024