Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Hoe het die tye verander! (was "Oom Sampie se Afskeidslied" deur GEORGE WEIDEMAN)
Hoe het die tye verander! (was "Oom Sampie se Afskeidslied" deur GEORGE WEIDEMAN) [boodskap #17545] Wo, 16 September 1998 00:00
Henry van Zyl  is tans af-lyn  Henry van Zyl
Boodskappe: 30
Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
Volle Lid
Gloudina, George Weideman se gedigte is so ongelooflik goed. Onthou jy
hoe Van Wyk Louw geskryf het oor die verslaentheid waarmee jy moes
wegstap van groot kuns af as dit ware kuns is? En hoe Socrates gepraat
het van die katarsis wat jy moes ervaar by die aanskoue van 'n tragedie?
Weideman se gedigte laat my so verslae. Wil jy nie asseblief meer
daarvan plaas nie? En my dalk vertel hoe en waar ek sy digbundels in die
hande kan kry in hierdie verre vreemde land?

Baie jare gelede het ek 'n jaar lank saam met Weideman in dieselfde
skool in Port Elizabeth skoolgehou; hy was Afrikaansonderwyser, ek
Engels. Sy eerste (?) digbundel het daardie jaar veskyn - iets met "die
ysman" (n.a.v. The Iceman Cometh) in die titel. Ek het dit nooit gesien
nie. Hy het egter 'n kopié aan ons destydse skoolhoof geskenk. Dié het
(agter Weideman se rug - en ook sonder om te besef dat ek dit hoor!) aan
'n vertroueling gesê dat die bundel so subversief is dat hy nie verbaas
sal wees as Weideman nog in die tronk beland as gevolg darvan nie. Dit
was die dae toe Magersfontein, o Magersfontein verban was.

Dit voel nou of dit in dieselfde tyd was toe pterodaktiele nog oor die
aarde gevlieg het.

Lank daarna was ek dosent by 'n onderwyskollege. Brink se (vir my) diep
aangrypende en ontroerende Houd-den-Bek het toe verskyn. Die
Afrikaansdosent wou dit vir haar derdejaars voorskryf. Toe lees die
rektor dit en verbied haar om dit voor te skryf - te veel grafiese seks
tussen die swart slaaf en die witvrou, en die wit baas en die swart
slavinne, dink ek, was sy betoog. Geen debat is toegelaat nie. Slegs 'n
verbanningdekreet.

Die afgelope week het die Starr-verslag in sy naakte barheid vir almal
beskikbaar geword, en vanaand hoor ons dis moontlik dat ons binnekort
Clinton se video-getuienis gaan sien.

Kyk nou hoe ver het ek van my beginpunt afgedwaal. Byna netso ver as wat
die pendulum oor die jare heen geswaai het.

Groete

Henry

@igs.net wrote:

> OOM SAMPIE SE AFSKEIDSLIED
> George Weideman
>
> dies my laaste sleepmiswinter
> die voornagwindjie stoot snaardun
> die ou blootsvoet se breivoetsole
> verlang vanaand 'n toemaakding
>
> dies my laaste sleepmiswinter
> ou bokveldsberg lê dig toegedraai
> selfs hantam se uitsoekwaboomkole
> kon nog nie my vingers laat katspoor maak
>
> dies my laaste sleepmiswinter
> ek voel dit aan my opstaanseer:
> as die sleepmis weer so oor die sandveld streep
> is dit rus myn siel jou god is koning
> en ek lê my hoof vir oulaas neer.
Vorige onderwerp: "Winternag" deur EUGENE MARAIS (with translation)
Volgende onderwerp: "Pella l^e 'n kruistog ver" deur GEORGE WEIDEMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 04:48:18 MGT 2024