Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Ek waag my aan skryfwerk ...!
Ek waag my aan skryfwerk ...! [boodskap #16393] Ma, 27 Julie 1998 00:00
Johan N Potgieter  is tans af-lyn  Johan N Potgieter
Boodskappe: 421
Geregistreer: Desember 1997
Karma: 0
Senior Lid
Dis seker nou maar ou Henri se voorbeeld wat hy stel my sy kampvuur
vertellinge, of van die ander ous wat so lekker skryf, wat my nou ook
so ver geinspireer het om my hand aan die pen te slaan en geboorte te
skenk aan 'n groot poging ...!

Goeie kritiek sal welkom wees, oor die taalgebruik en styl, maar nie
oor die inhoud nie - dis te waar en te persoonlik. Tensy jy my oor
die punte wat ek noem, wil aanvat - ons het al daarvan voorheen op die
nuusgroep bespreek.

Wel hier is dan my beskeie effort:
------------------------------------------------------
Dis droog. Binne.
Daar moet trane wees, dit moet ruk.
Dis stil - nie eers verwyt nie.
… soos ek my altyd voorgestel het Moeder Hanna was van buite …
Maar sy moes 'n man en kind afstaan.

"Verlang jy nie?"
"Voel jy nie skuldig nie?"
"Gaan jy terug?"
"Is jy spyt?"

Nee, nie een daarvan nie…

Ek voel binne soos ek buite wys.
En ek is tevrede …

Ek sien baie van die ander …
elk met 'n eie storie,
baie praat hard - hy moet homself oortuig,
baie praat groot - hy moet beindruk,
baie wil nie praat nie - dalk spyt, of gelukkig, soos ek …

Nou en dan kyk jy suid,
so op die internet horison lê nog die buitelyne van Suid Afrika.
Jy luister met bakhand agter die oor,
Onverwagse familie en vriende se stemme is e-mail helder.

En gou besef jy daar is nie genoeg verlang om jou langer suid te laat
kyk nie. Mark Twain was reg - jy verlang nie na daardie ver land waar
jy grootgeword het nie, maar na jou eie grootword-jare.
En die familie e-mail net gereeld genoeg om te laat weet jou skrywe
raak min, maar hulle eie stemme raak maar stil…

Voor jy oor die groot oseaan gevlieg het, het jy 'n brief aan jou
seuns begin - om te sê hoekom. Maar die woorde het so hol geklink.
'n Mens kan nie ses maande lank besluit en dan in 'n brief wil beskryf
nie.

"Ek gaan nou van julle Amerikanertjies maak -
met 'n nuwe aksent en 'n nuwe taal.
"Ek gaan julle van Ouma af wegneem -
sodat julle haar baie min sal sien.
"Ek gaan julle van julle troeteldiere af losmaak -
dalk sê ek julle nie eers wat ek met Ore laat doen het nie.

"Ek gaan julle vry maak -
Ek kan nie dit in woorde sê nie.
"Ek gaan julle 'n blinker toekoms gee -
Julle moet die cliché glo.
"Ek gaan 'n beter ouer kan wees -
Daar in Amerika …

Die woorde is maar hol, so min…
Was julle maar jonger om nie van beter te weet nie.
Was julle maar ouer om beter te kan verstaan.
Was ek maar slimmer om beter te kon verduidelik.

Dis droog. Binne.
Daar moet trane wees, dit moet ruk.
Hoe kan ek Suid Afrika dan nie hartstogtelik mis nie!

Dis stil - nie eers verwyt nie.
… soos ek my altyd voorgestel het Moeder Hanna was van buite …
Maar sy moes 'n man en kind afstaan.
Hoekom ervaar ek dit nie as hoogs dramaties nie!

"Nee, ek Verlang nie!"
"Nee, ek Voel jy nie skuldig nie!"
"Nee, ek Gaan nie terug nie!"
"Nee, ek Is nie spyt nie!"

Johan Potgieter
Julie 1998
------------------------------------------
Vorige onderwerp: Re: Ek waag my aan skryfwerk ...!
Volgende onderwerp: Verskoning
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 29 05:10:05 MGT 2024