Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » GRATIS E-POS KOERANTJIE
GRATIS E-POS KOERANTJIE [boodskap #15030 is 'n antwoord op boodskap #15031] Do, 21 Mei 1998 00:00
Danie  is tans af-lyn  Danie
Boodskappe: 83
Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
Volle Lid
GRATIS E-POS - KOERANTJIE

Ek stuur drie keer per week 'n gratis "E-pos koerantjie" aan
'n groep Internetters. Ek plaas hieronder 'n voorbeeld van 'n
uitgawe. Indien jy dit ook wil ontvang, stuur net aan my 'n
E-pos na: dm...@lantic.co.za en skryf: "Wil inskryf".
Indien jy dit 'n paar dae ontvang het en jy voel dat ek besig
is om jou tyd te mors, dan skryf jy net dat ek jou naam moet
uithaal en ek doen dit dadelik.
Ek belowe dat ek NIE aan jou gemorspos of advertensies
sal stuur nie.

Groete,

Danie [dm...@lantic.co.za]

########################

VOORBEELD:

########################

Hallo almal.

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

Kom ons begin sommer vandag met die volgende:

Ek dink nou sommer aan, George die boemelaar, , wat by die Izak
gekom en gebedel het. Izak het vir hom gesê dat hy nie vir hom
kos wil gee nie, maar dat hy vir hom werk het waarvoor hy hom
maandeliks 'n salaris sal betaal. Om 'n lang storie kort te maak,
George het toe by hom begin werk. Een aand het een van die
huismense verjaar en daar is 'n geselligheid aangebied en
George is ook uitgenooi. Een van die gaste vra toe later vir
George hoekom die boemelaars so van dorp na dorp loop,
waarop George geantwoord het: "Maar man 'n mens moet mos
darem aangaan in die lewe.

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

HELPMEKAARHOEKIE:

Sy skryf en vra:

Kan van die Internet vriende vir my sê waar op die Net 'n mens
jouself moet adverteer, as jy werk soek. Of waar op die Net soek
'n mens werk . Help asseblief!!!

Stuur sommer aan my die raad by [dm...@lantic.co.za]
en ek sal dit deurgee.

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

KINDERSÊGOED:

Hans was so skuins by drie verby en Pa en Ma was in Engeland vir Pa
se nagraadse studies. Die knapie en sy sussie het by Oup's-hulle gebly
tydens die afwesigheid. Oupa was 'n ou roker en 'n platjie daarby. Oupa
het net aan een sigaret geglo - Westminster 85. By die kafee stuur hy vir
Hans in om vir hom sigarette te koop. Oupa bly buite om die petalje deur
die venster te aanskou. Na 'n minuut of so kom die Griek na buite en vra
Oupa wat die kind wil hê. Hy kan nie verstaan wat die kind wil koop nie.
"Die kind hy sê sy Oupa wil he - yes mister eihgty-five."
[Darem 'n dom Griek, nê?"]

*******************

Op Oupa-hulle se plaas is 'n baie handige klong. Terwyl Willie en Gert,
Oupa se kleinseuns, op die plaas kuier, het hy vir elkeen 'n kitaartjie gemaak
van lee olieblikke, en hulle tokkel tog te lekker en nogal behendig op die
snare. Toe 'n paar maatjies kom kuier, hou hulle sommer konsert.

Een outjie, die 3 jarige Fransie, neem die een kitaar en merk dat die een
snaar gebreek is. Terwyl hy dit teruggee, kla hy:
"Willie, hoekom is sy singetjie stukkend?

*******************

Hulle kom uit Pretoria om in Jeffreysbaai vakansie te hou. Ma
kan geen inkopiesentrum weerstaan nie. Terug by die skool laat
juffrou die kinders 'n paar sinnetjies skryf oor wat hulle tydens
die vakansie ervaar het. Christo se poging: "Ons het heerlik
geswem in die see. My Pa het saam met ons sandkastele gebou.
Die vakansie was vreeeeeeslik wonnnnnerlik .... en ....en..........
toe sien my Ma 'n winkel."

*******************

Dis oukersaand en Ouma lees vir die kleingoed die
Kersverhaal .................."en die maagd het swanger
geword ............." Ouma stop skielik, want sy wonder:
"weet julle wat beteken swanger?"
Kortaf antwoord die 3 jarige Wian: " Ja Ouma, Preggies!!"

*******************

Die ouer boetie en sussie speel skool-skool, en die boetie sê:
"Ek sal nou 'n sin in Engeks sê, dan sê jy dit in Afrikaans."
"OK"
"OK - - - My grandfather and my grandmother live in Pretoria."
Toe antwoord sussie: "My pa is ghrend en my ma is ghrend en
hulle soek 'n lift in Pretoria."

*****************

Die tweeling wil albei op Oupa se skoot sit. Dit gee egter 'n gestoei
af en Oupa ag dit nodig om die twee kleuters te waarsku:
"A-nee-a, kerels, stadig nou. Onthou Oupa is 'n ou man!!"
"Ag nee" spreek die een vir Oupa aan, "Oupa is nie oud nie,
dis net Oupa se hare wat oud is."

******************

Dit was boetie se 5de verjaarsdag en Ma gee vir die kleingoed 'n
heerlike partytjie met 'n oorvloed van eetgoed.
Kleinsus is net verby 3 en as daar 'n geleentheid vir 'n tafelgebed is,
laat sy dit nie verby gaan nie. Soms laat Pa haar toe by die aandete,
maar dan moet die gesin weet dat dit weer 'n marathon van dankies
gaan wees. Dis dankie vir die borde, messe, vurke, lepels, al die kosse
by die name, die gesinslede - by name, die huisdiere - by name, ens. ens.
totdat Amen uiteindelik soos 'n verlossing aanbreek.
En nou is dit weer so met boetie se partytjie. Sy dring daarop aan om
eers te bid voor hulle begin eet, en Ma se dis reg so - om die vrede te
bewaar.Sy val weg en volg die ou geykte patroon wat net aanhou en
aanhou en aanhou ........... tot die Amen genadiglik kom.
Dis toe dat boetie sy armpies in die lug gooi met:
"Ai Ma, Sussie het my nou skoon honger gebid."

*******************

Bert, [die outjie is nou so 4 en 'n half] sien vir die eerste keer iemand
wat op rolskaatse die straat daar afkom. Opgewonde sê hy:
"Kyk Ma, daai ou ry met tekkies op wiele."

*******************

Oupa en Ouma bly op die plaas en hulle het vir die gerief van die
plaasarbeiders, 'n plaaswinkeltjie. Omdat hulle nie meer baie lus
was om in die winkeltjie te werk nie, is een van die ou werkers,
wat al afgetree het, aangesê om die winkelassestent te wees. Die
ou [terloops, sy naam was Moses] was al baie oud, maar baie goed
met die verkope en die uitkeer van die kleingeld. Siende dat die ou
iewers in sy lewe in 'n ongeluk betrokke was het hy ietwat kreupel geloop.

Een aand lees Ma vir Ralie die verhaal van hoe Moses se ma hom op
die rivier tussen die riete versteek het.

Die volgende dag kom kuier haar neffie en sy vertel aan hom die verhaal:
"Hennie, toe Moses klein was het sy Ma hom in 'n suitcase gesit en op die
water gesit, en nou werk hy by Oupa in die winkel.

******************

Ouens wat sensitief is vir kru woorde, moet asseblief NIE die volgende
staaltjie lees nie. As jy dit lees dan doen jy dit op jou eie risiko en mag
nie later vir my kwaad wees nie, want ek het jou gewaarsku.

Ek hoop dat jy dié staaltjie gaan geniet soos wat ek dit geniet het en miskien
help dit om die Maandag sommer minder blou te maak.

Hermien vertel dat haar Ma, tant Christie, se grootste verleentheid in haar
ganse bestaan van drie-en-sewentig en 'n half jaar, die dag was toe sy skielik
haar kleinseun, Heinkie [4] moes oppas toe dié se Ma skielik na die
spesialis moes gaan.

Tant Christie het vir dié dag 'n tee-afspraak met Mev. Dominee en tant Martie,
die hoofouderling se vrou gehad. Net om sake in perspektief te stel moet vermeld
word dat dié drie dames baie waardig, deftig en fyn opgevoed is. Terwyl hulle
hulle tee geniet [so met die pinkie in die lug, wanneer die koppie gebruik word]
gesels hulle oor Bach en Beethoven en daardie soort musiek.

Skielik kom Heinkie die sitkamer ingestorm met:
"Ouma, het Ouma seblief vir my papier?"

Ouma is vriendelik, maar baie beslis, wanneer sy sê: "Heinkie, Ouma sal
net-nou vir jou papier gee om op te teken, maar nou moet jy asseblief
buite gaan speel."

Heinkie is daaruit, maar is na ongeveer tien minute terug, en hy skok Ouma
totaal uit haar geloof uit, maar nie net uit haar geloof uit nie, ook sommer in
'n nuwe bloedgroep in, toe hy ewe doodluiters aankondig: "Dankie Ouma,
ek het nie meer die papier nodig nie, ek het sommer my 'hollie' met my hemp
afgevee."

******************

WYSHEDE:

Hoewel dit moeilik is vir 'n Pa om nie 'n seun te hê nie,
is dit nog moeiliker vir 'n seun om nie 'n Pa te hê nie.

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

OORDENKING:

[Ek het die stukkie hieronder iewers raakgeloop
en gedink om dit hier te herhaal.]

ONS MAG GOD MAAR STEUR

Lukas 11:1-23

In Lukas 11:8-9 lees ons: Al sou hy nie opstaan en dit
vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan
en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie
skaam om aan te hou vra nie............Vra, en vir julle
sal gegee word. Soek en julle sal kry. Klop en vir julle
sal oopgemaak word.

As die dissipels hulle Meester sien bid, dan vra een van
hulle Hom om hulle ook te leer bid. Dan gee Hy aan hulle
hierdie modelgebed, die Onse Vader. Dit beteken nie dat
dit nou al gebed is wat ons mag bid nie. Dit is meer 'n model,
'n voorbeeld, waaruit ons kan aflei hoe om te bid.

Die pragtige, byna humoristiese, klein gebedsgelykenis wat
Jesus daarop laat volg, spreek boekdele oor gebed. In die
vriend se huis het hulle pas die aand al die brood opgeeet.
Die kinders was ook so honger en sy vrou kon die dag nie
bak nie. Maar ag more is nog 'n dag. En toe daag die
kuiergaste juis vanaand op. En solank sy vrou die tafel vir
hulle gereed kry, glip hy agterom na sy buurman. En daar
klop hy dringend aan en verduidelik hulle penarie. Nou
moet ons ons net die situasie daar in die Oosterse huisie
voorstel. Snags word die eenvertrek-woonhuis 'n
slaapkamer. En almal slaap op 'n ry. Boonop het die
ooilam ook nog in die huis geslaap [vergelyk 2 Sam 12:3].

Stel jou die chaos daarbinne voor as die ouers, die kinders,
die baba, en die ooilam naderhand wakker is en moet plek
maak dat Pa in die spens kan kom!

Maar Jesus sê: Hy sal die brode gee omdat sy vriend hom
die eer aandoen om hom nie te skaam om aan te hou vra
totdat hulle wakker is nie. En let op, Jesus vervolg: "Vra,
en vir julle sal gegee word." Al is God en al die engele reeds
in die bed, Hy sal graag vir ons opstaan. Dis vir Hom 'n eer
om gepla te word. Hy het selfs vir ons uit die dood opgestaan
en vir ons Sy Seun gegee.

As ek snags nie kan slaap nie, gee ek my sorge vir die
HERE. Hy is in elk geval wakker, want Psalm 121 sê mos
dat Hy nie slaap nie.

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

Kindersêgoed is baie welkom, en
adresse van ander Internetters ook!!!

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^

Groetnis tot Maandag,
mooi bly en soet wees,

Danie [dm...@lantic.co.za]
http://www.global.co.za/~pretblad.
Re: GRATIS E-POS KOERANTJIE [boodskap #15031 is 'n antwoord op boodskap #15030] Do, 21 Mei 1998 00:00 Na vorige boodskap
nomad  is tans af-lyn  nomad
Boodskappe: 37
Geregistreer: Mei 1998
Karma: 0
Volle Lid
Danie wrote in message ...
> GRATIS E-POS - KOERANTJIE
>
> Ek stuur drie keer per week 'n gratis "E-pos koerantjie" aan
> 'n groep Internetters. Ek plaas hieronder 'n voorbeeld van 'n
> uitgawe. Indien jy dit ook wil ontvang, stuur net aan my 'n
> E-pos na: dm...@lantic.co.za en skryf: "Wil inskryf".
> Indien jy dit 'n paar dae ontvang het en jy voel dat ek besig
> is om jou tyd te mors, dan skryf jy net dat ek jou naam moet
> uithaal en ek doen dit dadelik.
> Ek belowe dat ek NIE aan jou gemorspos of advertensies
> sal stuur nie.
>
> Groete,
>
> Danie [dm...@lantic.co.za]
>
>
Dankie Danie, vir die vars briesie.
Vorige onderwerp: Pedantiese Hollanders !!!!!!!!
Volgende onderwerp: Oor atoombom-ontploffings
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 20 14:07:48 MGT 2024