Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » sit
sit [boodskap #126468] Sa, 08 Junie 2019 06:24
Leksikograaf is tans aan-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 19021
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
'n Man wat op 'n stoel sit.
'n Man wat op 'n stoel sit.
sit
Afbreking: sit




Werkwoord: sit
Verlede tyd: het gesit
Teenwoordige deelwoord: sittende

Betekenis:
• Op die sitvlak verkeer; in 'n sittende posisie wees, met die boude op 'n plat vlak en die rug regop.
• Op 'n plek plaas; neersit.
• Mooi pas.
• 'n Posisie beklee.
• Tronkstraf uitdien.

Gebruik:
Sit asseblief.
• Ek sit die sleutels op die tafel.
• Die hemp sit te styf om my lyf.
• Koos sit op die komitee. Jan sit op die kerkraad.
• As jy steel gaan jy lank sit.

Spreekwoord:
• Alles op die spel sit. [Alles waag.]
• Alles op een kaart sit. [Alles in een slag wys.]
• As die duiwel oud word, gaan hy onder die preekstoel sit. [As 'n roekelose persoon oud word, raak hy vroom.]
• As jy op twee stoele tegelyk wil sit, kom jy op die grond te lande. ['n Mens kan selde twee dinge gelyk met sukses doen.]
• Daar sit iets agter. [Daar is onbekende redes.]
• Die bal aan die rol sit. [n Saak aan die gang sit.]
• Die beste touleier sit op die voorbok. [Dis maklik om ander te kritiseer as jy jou nie in hulle posisie bevind nie.]
• Die duiwel sit agter sy nek. [Hy is nukkerig.]
• Die knoop sit aan die end van die riem. [Die moeilikheid kom eers later.]
• Die mes op iemand se keel sit. [Iemand dwing om iets te doen.]
• Die plan in die yskas sit. [Die uitvoering van die plan uitstel.]
• Die tering na die nering sit. [Die uitgawes na die inkomste reël.]
• Dis 'n slegte aasvoël wat bly sit as hy gevreet het. [Gesê as verskoning deur 'n gas wat onmiddellik na ete wil vertrek.]
• Dit gaan nie in sy klere sit nie. [Dit raak 'n mens diep.]
• Dit sit nie in sy broek nie. [Hy is nie in staat om dit te doen nie.]
• Dit sit so vas soos klitsgras aan hom. [Gesê van iemand wat 'n ander nie alleen kan laat staan.]
• Ek moet dit van die hand sit. [Verkoop]
• Ek sal my hande nie daaraan sit nie. [Ek sal dit nie aanraak nie.]
• Ek sien jou liewer op Bloksberg sit voor ek dit doen. [Ek weier om dit te doen.]
• Ek sit met my hande in die hare. [Ek kan nie 'n oplossing vind nie.]
• Hoe minder harsings in sy kop, hoe hoër pluiskeil sit hy op. [Iemand steek dikwels sy gebrek aan verstand agter uiterlike vertoon weg.]
• Hoog en droog daar sit. [Sonder om aan iets deel te hê.]
• Hulle sit langs een vuur. [Van dieselfde mening wees.]
• Hulle sit mekaar in die hare. [Maak rusie met mekaar.]
• Hulle sit nie op dieselfde stoel nie. [Kom nie met mekaar klaar nie.]
• Hulle sit 'n prys op sy kop. [Beloning aanbied om iemand te vang.]
• Hulle sit onder een dak. [Hulle het dieselfde belange.]
• Hulle sit op die vlakte. [Sonder onderdak wees; behoeftig wees.]
• Hulle sit soos dassies in die son. [Lekker sit en bak.]
• Hy sit agter die wiel. [Hy bestuur.]
• Hy sit daar droëbek. [Nie eet- of drinkgoed kry nie.]
• Hy sit daar met ronde hande. [Hy is lui.]
• Hy sit daar nes 'n aap op 'n stokkie. [Hy lyk verleë en bedremmeld.]
• Hy sit die beste beentjie voor. [Baie moeite doen om 'n goeie indruk te maak.]
• Hy sit die lied te hoog in. [Te gou groot vriende word.]
• Hy sit die puntjie op die i. [Hy gaan baie noukeurig te werk.]
• Hy sit en tande tel. [Gesê van kinders wat in die geselskap van grootmense onwelkom is.]
• Hy sit en vlieë vang. [Hy sit met 'n oop mond.]
• Hy sit in sak en as. [In die grootste droefheid gedompel wees.]
• Hy sit kwaad bloed. [Hy veroorsaak onvrede en kwade gevoelens.]
• Hy sit met 'n dik bek. [Ontevrede en nukkerig.]
• Hy sit met sy hand vol vlieë. [Al jou moeite het jou niks in die sak gebring nie.]
• Hy sit my ore aan. [Iemand verkul; iemand wen.]
• Hy sit op die draad. [Hy kies nie kant nie.]
• Hy sit op die heining. [Hy kies nie kant nie.]
• Hy sit op hete kole. [In groot angs verkeer of onrustig wees.]
• Hy sit op spelde. [Baie onrustig wees.]
• Hy sit op sy praatstoel. [Hy wil graag gesels.]
• Hy sit op twee stoele. [Kies nie party nie; probeer om in albei partye se guns te bly.]
• Hy sit soos 'n uil op 'n kluit. [Voel verlore en verleë.]
• Hy sit soos 'n voël op 'n tak. [Sonder 'n vaste woonplek wees.]
• Hy sit tussen twee vure. [Tussen twee moeilikhede wees.]
• Iemand 'n stang in die bek sit. [Hom beteuel.]
• Iemand se kop tussen sy ore sit. [Iemand 'n les leer of berispe.]
• Iets op tou sit. [Iets begin.]
• Jou kop op 'n blok sit. [Baie seker wees van iets.]
• Jou lamp onder die maatemmer sit. [Jou kennis vir jouself hou en nie ander help nie.]
• Jou voet dwars sit. [Jou verset teen.]
• Jy sit oogklappe vir hom aan. [Jy bedrieg iemand.]
• Langs een vuur sit. [Van dieselfde opinie wees.]
• Met die gebakte pere sit. [Opgeskeep sit met iets.]
• Met jou neus in die boeke sit. [Gedurig besig wees om te studeer.]
• Met 'n droë bek sit. [Niks te ete kry nie; teleurgesteld wees.]
• Moenie al jou eiers onder een hen sit nie. [Moenie al jou geld in een onderneming belê nie.]
• Nes 'n aap op 'n stokkie sit. [Erg beteuterd lyk.]
• 'n Slot voor iemand se mond sit. [Iemand dwing om nie te praat nie.]
• Onder die plak sit. [Onder die mag van 'n ander verkeer.]
• Onder een bos sit. [In alles saamstem.]
• Op die ashoop sit. [Moedeloos of treurig wees.]
• Op die draad sit. [Nie kant kies nie.]
• Op moedverloor se vlakte sit. [Baie moedeloos wees.]
• Op naalde en spelde sit. [In groot angs verkeer of onrustig wees.]
Sit skouer aan die wiel. [Span alle kragte in.]
• Stewig in die saal sit. [Goed gevestig wees in die pos.]
• Sy gesante en trawante sit saam in die tronk. [Iemand se helpers, veral in slegte sake.]
• Sy hart sit in sy broek. [Hy is bang, lafhartig.]
• Sy sit daar met gevoude hande. [Sy doen niks nie.]
• Sy sit die gesang in. [Sy begin huil.]
• Sy sit die pot mis. [Sy slaag nie.]
• Sy sit op die bakoond. [Sy is ouerig en sal dalk nie trou nie.]
• Sy sit op die rak. [Sy is 'n oujongnooi.]
• Sy sit op die stoppelland. [Sy is 'n oujongnooi.]
• Sy sit op sy kop. [Baasspeel oor iemand.]
• Sy turf sit. [Dis klaarpraat met hom; sy plan het misluk.]
• Van sit en staan, kom niks gedaan. ['n Mens rig niks uit as jy dit nie ernstig aanpak nie.]
• Vir 'n blaas met ertjies op loop sit. [Gou bang word.]
• Wie die naaste aan die vuur sit, word die warmste. [Persone in gunstige posisies kry voorkeur.]

Verwant:
• staan
• lê

Afgelei:
• afsit
• neersit
• opsit
• sitplek

Vertaling:
Engels: to sit; to put, place
Nederlands: zitten

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: Brittanje
Volgende onderwerp: Natal
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 19 17:34:36 MGT 2024