Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Diskriminasie 'n stappie te ver !!
Diskriminasie 'n stappie te ver !! [boodskap #12578] Di, 10 Februarie 1998 00:00
Hannes  is tans af-lyn  Hannes
Boodskappe: 33
Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
Volle Lid
KAAPSTAD. - 'n Aankondiging deur die Minister van Omgewingsake en Toerisme
dat sportvissers van vandag nie meer weeksdae perlemoen en kreef mag
uithaal nie, is gister met 'n golf van kritiek deur sportvissers en
bewaringsmense begroet.

Goeie nuus vir bestaansvissers is egter dat 'n beperkte aantal kreef-,
perlemoen- en snoekpermitte beskikbaar gestel gaan word aan behoeftige
vissers wat voorheen nie toegang tot die bron gehad het nie. Hulle sal hul
vangste mag verkoop.

Hoewel die hulp aan bestaansvissers verwelkom word, is dr. Pallo Jordan
daarvan beskuldig dat hy pleks van om stropers vas te vat of die
kommersiële kwota te sny, hom op 'n sagte teiken - wetsgehoorsame mense wat
vir ontspanning duik - toespits om die aanslag op die marienebron te
verlig.

Onderwater Afrika, die unie vir sportduikers in die Wes-Kaap, het gesê
hy weier om te hou by die nuwe bepalings - ingevolge waarvan kreef en
perlemoen net naweke en vakansiedae tussen 8 vm. em 4 nm. uitgehaal mag
word.

Volgens die woordvoerder, mnr Alex Papayani, het die regering nie die
moed om die stroperprobleem by Hawston te takel nie; nou straf hy
sportduikers. Intussen is die sportvissersbedryf miljoene rande - selfs
meer as die kommersiële bedryf - vir die land werd.

"Wat word nou van sportvissers wat naweke werk en in die week wil kreef
uithaal of duik, of mense wat vakansie hou? Dit is soos 'n tronkstraf!"

Die Wes-Kaapse Marienebewaringsvereniging se voorsitter, mnr. Vic
Kabalin, het gesê dit is nie regverdig dat sportvissers uitgesonder word
nie, aangesien hulle net 'n fraksie van die kreef uithaal wat groot
maatskappye vat.

Seevisserye meen egter die ontspanningsbedryf het hand uitgeruk. Die
hoofdirekteur van Seevisserye, dr. Monde Mayekiso, sê die inkorting van
sportvissers se tyd is 'n poging om die druk wat die ontspanningsbedryf op
die aanlandige bron plaas, te verminder. Die huidige perk van vier krewe en
vier perlemoene per persoon bly egter onveranderd.

"Die aantal kreef- en perlemoensportvissers styg elk jaar dramaties.
Verlede seisoen is 75 000 permitte verkoop en vanjaar sal dit nóg meer
wees. Ek het instruksies gegee dat niks meer vanjaar verkoop word nie."

Intussen het die Informele Vissersektor, waaraan 3 200 bestaansvissers
in die Wes-Kaap behoort, gesê hoewel die groter toegang vir sý lede
verwelkom word, is hy bekommerd oor die manier waarop permitte uitgereik
gaan word.

"Registrasie van bestaansvissers moet vinnig en regverdig afgehandel
word, so nie sal elke Jan Rap en sy maat sê hulle is bestaansvissers," het
die voorsitter van die sektor, mnr. Andy Johnston, gesê.

Ingevolge Jordan se plan sal 1 000 kreef- en 250 perlemoenpermitte aan
agtergeblewe vissers teen R40 stuk verkoop word. Voorkeur sal gegee word
aan behoeftige broodwinners met 'n geskiedenis in die visbedryf. Dit sal
permithouers in staat stel om vier krewe en perlemoene per dag elke dag van
die week te vang en te verkoop. Permitte sal ook aan snoek- en
hottentotsvissers uitgereik word sodat hulle daagliks tien visse elk mag
vang en verkoop.

Bestaansvissers sal ook net tussen 8 vm. en 4 nm. hul vangste mag land
toe bring - 'n beperking wat Seevisserye meen wetstoepassing sal
vergemaklik. Bestaansvissers wat tans 'n sportpermit het, moet dit vir 'n
nuwe permit inruil.

---
Dit was 'n artikel in 'n lokale koerant.

Ek het geen probleem as so 'n stap geneem word om 'n bron te beskerm nie,
maar as dit suiwer polities is , soos dit in die geval blyk te wees, dan
sien ek groot probleme vir ons reënboognasie, want dit lyk my in ons
reënboog is daar nie regtig plek vir al die tipes(let wel nie kleure nie)
nie, want die 'artergeblewe persone' , is nie deel van dieselfde reënboog
nie !!!
Re: Diskriminasie 'n stappie te ver !! [boodskap #12579 is 'n antwoord op boodskap #12578] Di, 10 Februarie 1998 00:00 Na vorige boodskap
ferdinand  is tans af-lyn  ferdinand
Boodskappe: 1462
Geregistreer: September 1997
Karma: 0
Senior Lid
On 10 Feb 1998 08:08:31 GMT, "Hannes" wrote:

<<>Ek het geen probleem as so 'n stap geneem word om 'n bron te beskerm nie,
> maar as dit suiwer polities is , soos dit in die geval blyk te wees, dan
> sien ek groot probleme vir ons reënboognasie, want dit lyk my in ons
> reënboog is daar nie regtig plek vir al die tipes(let wel nie kleure nie)
> nie, want die 'artergeblewe persone' , is nie deel van dieselfde reënboog
> nie !!!>>

Interessante storie, maar se my hoekom jy reken dis "suiwer polities".
Vorige onderwerp: Visstories
Volgende onderwerp: President Mandela is nou blykbaar 'n voorstander van die apartheid geword
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 16 02:40:13 MGT 2024