Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » mens
mens [boodskap #125676] Wo, 08 Mei 2019 19:06
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 18928
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
'n Mens.
'n Mens.
mens
Afbreking: mens
Uitspraak: /mẽːs/




Selfstandige naamwoord: mens
Meervoud: mense
Verkleinwoord: mensie
Meervoud van verkleining: mensies

Betekenis:
• 'n Persoon, soos 'n man, vrou of kind (ook as aanspreekvorm vir so 'n groep).
• Gaste wat kom kuier; kuiermense.
• (biologie) 'n Primaat van die soogdiergenus Homo en die spesie Homo sapiens.

Gebruik:
• Daar was baie mense in die kerk vandag. Middag mense!
• Ons kry mense vir ete vanaand.
• Die mens het 'n sterk ontwikkelde brein, maar kan nie vlieg nie.

Vertaling:
Engels: human being, human, man, person
Nederlands: mens


Voornaamwoord: mens

Betekenis:
• Wanneer daar oor die algemeen gepraat word, sonder om iemand se naam te noem.

Gebruik:
• 'n Mens moet luister as jou ouers praat.

Spreekwoord:
• Al doende leer 'n mens. [Deur 'n ding te doen, leer jy dit goed doen.]
• As 'n mens in Rome is, moet jy maak soos die Romeine. [As iemand in 'n vreemde plek is, moet hy hom na die nuwe toestande skik.]
• As 'n mens 'n hond wil slaan, kry jy maklik 'n stok. [As jy iemand kwaad wil aandoen, kry jy maklik 'n geleentheid.]
• As Petrus by is, praat 'n mens nie van die haan nie. [Dit is taktloos as jy oor iemand se onaangenaamhede uit die verlede praat.]
• By gebrek aan brood, eet 'n mens korsies van pastei. [As die gewone dinge ontbreek, gebruik jy iets van groter waarde.]
• Deur skade en skande word 'n mens wys. [Deur onaangename ondervindings leer 'n mens.]
• Deur stampe en stote word 'n mens wys. [Deur teenspoed leer 'n mens.]
• Die inwendige mens versterk. [Iets eet of drink.]
• Die mens wik, maar God beskik. [Die mens maak planne, maar dinge gebeur soos God dit bestier.]
• Eers mens, dan langoor. [Die meerdere word voor die mindere bedien.]
• In die kleinste potjies bewaar 'n mens die beste salf. [Waardevolle dinge is skaars en kom in klein maat.]
• In 'n mens se eie huis tik die klok die mooiste. ['n Mens is op jou gemak in jou eie huis.]
• In nood leer 'n mens jou vriende ken. [Iemand wat jou ook in ware omstandighede bystaan, is 'n ware vriend.]
• Met onwillige honde kan 'n mens nie hase vang nie. ['n Mens kan niks uitrig met mense wat dwarstrek nie.]
• 'n Mens kan goud ook te duur koop. ['n Mens kan te duur vir iets betaal, al is dit ook hoe waardevol.]
• 'n Mens kan hom deur 'n naald trek. [Hy is baie netjies aangetrek.]
• n Mens kan hom nie met 'n tang aanraak nie. [Hy is baie vuil.]
• 'n Mens kan nie van brood alleen lewe nie. [Die geestelike is belangriker as die fisiese.]
• n Mens kan nie vuis maak sonder hand nie. [Jy kan nie die onmoontlike doen nie.]
• 'n Mens kan nie yster met hande breek nie. ['n Mens kan nie die onmoontlike doen nie.]
• 'n Mens kan van 'n esel altyd 'n skop verwag. [Van 'n slegte persoon kan 'n mens altyd verwag om sleg behandel te word.]
• 'n Mens moenie almal uit een pappot wil eet nie. [Twee families moenie ondertrou.]
• 'n Mens moet iewers 'n lyn trek. ['n Mens moet vasstel hoe ver gegaan mag word.]
• n Mens moet nie verder spring as wat jou stok lank is nie. [Moenie meer onderneem as wat jy kan uitvoer nie.]
• 'n Mens moet nooit sê: Fonteintjie, ek sal nooit weer van jou drink nie. [Moenie so seker wees dat jy iets of iemand se hulp nooit weer sal benodig nie.]
• 'n Mens noem nie die koei bont as daar nie 'n vlekkie aan is nie. [Daar is nie 'n praatjie sonder 'n oorsaak nie.]
• 'n Mens ontvang krag na kruis. [Krag om leed en beproewing te aanvaar.]
• 'n Mens sal nie weer iemand se stof sien nie. [Iemand sal nie weer sy verskyning maak nie.]
• 'n Mens sien hom voor die kop, maar nie in die krop. [Iemand na die uiterlike beoordeel.]
• 'n Mens waardeer die skat eers as dit verlore is. [Goeie dinge word soms te laat waardeer.]
• Oor mooi en lelik kan 'n mens nie stry nie. [Elke mens het sy eie idee van skoonheid.]
• Op een been kan 'n mens nie loop nie. [Verskoning vir 'n ekstra sopie drank.]
• Van dik hout saag 'n mens planke. [Met oorgenoeg middele kan 'n mens kwistig te werk gaan.]
• Van hoor en sê, lieg mens veel. [Deur oorvertel word baie onwaarhede verkondig.]
• Vir geld kan 'n mens die duiwel laat dans. [Met geld kan 'n mens enigiets doen.]
• Wie se brood 'n mens eet, dié se woord 'n mens spreek. [Jy steun die persoon van wie jy vir jou bestaan afhanklik is.]

Vertaling:
Engels: one, person
Nederlands: mens

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: lande
Volgende onderwerp: hallo
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 09 10:24:51 MGT 2024