Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » water
water [boodskap #125190] Sa, 23 Maart 2019 19:55
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 18927
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
Spattende water.
Spattende water.
water
Afbreking: wa•ter
Uitspraak: /ˈvɑːtər/




Selfstandige naamwoord: water
Meervoud: waters
Verkleinwoord: watertjie
Meervoud van verkleining: watertjies

Betekenis:
• 'n Kleurlose, reuklose en smaaklose vloeistof wat 'n mens kan drink.
• 'n Verbinding (H2O) bestaande uit twee dele waterstof en een deel suurstof.

Gebruik:
• Skink vir my 'n glas water asseblief.

Spreekwoord:
Water uit 'n klip tap. [Om met min die onmoontlike reg te kry.]
• Bloed is dikker as water. [Jy doen meer vir jou bloedverwante as ander kennisse.]
• Daar sal nog baie water in die see loop. [Nog baie dinge sal gebeur.]
• Die kop net bo die water hou. [Met moeite net genoeg verdien om aan die lewe te bly.]
• Die kruik gaan na die water tot dit breek. ['n Mens kan aanhou met iets gevaarliks, maar eindelik gaan dinge verkeerd loop.
• Die water het tot aan die lippe gekom. [Die nood is baie hoog.]
• Die water van die see kan hom nie skoon was nie. [Hy het iets onvergeefliks gedoen.]
• Dis net 'n druppel water in die see. [Baie min.]
• Dis 'n storm in 'n glas water. ['n Groot lawaai oor 'n nietigheid.]
• Dis water op sy meul. [Dis net wat hy wil hê.]
• Dit staan soos 'n paal bo water. [Dit is beslis so; dit is heel duidelik.]
• Ek wis van geen sout of water nie. [Ek het daar absoluut niks van geweet nie.]
• Geld in die water gooi. [Geld verkwis.]
• Gods water oor Gods akker laat loop. [Sake hulle eie gang laat gaan.]
• Hy gee nie om oor watter akkers die water loop nie. [Hy gee nie om watter loop sake neem nie.]
• Hy kan nie sien dat die son in 'n ander se water skyn nie. [Hy is afgunstig.]
• Hy lewe van brood en water. [Hy voer 'n hongerbestaan.]
• Hy raak in diep water. [In die moeilikheid kom.]
• Hy vis in troebel water. [Wins probeer kry uit ander se moeilikhede, probleme.]
• Hy weet van geen sout of water nie. [Hoegenaamd niks weet nie.]
• In die water raak. [In moeilikheid kom.]
• In troebel water visvang. [Uit moeilike en stormagtige tye voordeel probeer trek.]
• Jy kan 'n perd by die water bring, maar jy kan hom nie dwing om te suip nie. [Iets kan nie deur dwangmiddele bereik word nie.]
• Katjies deur die water dra. ['n Netelige saak oplos.]
• Koue water op iemand omkeer. [Iemand se geesdrif demp.]
• Olie op die water gooi. [Opgesweepte gevoelens probeer paai.]
• So gelukkig soos 'n eend in die water. [Baie gelukkig.]
• Soos twee druppels water na mekaar lyk. [Presies eenders lyk.]
• Soos water op 'n eend se rug. [Gesê aan iemand wat hom nie aan goedbedoelde raad of kritiek steur nie.]
• Sy is bang om haar hande in koue water te steek. [Hande-arbeid vermy.]
• Van die eerste water. [Van die hoogste gehalte; in die grootste mate.]
• Van liefde en koue water leef. [Skertsend gesê van 'n paartjie wat baie verlief is.]
Water in 'n mandjie dra. [Iets wat onmoontlik is, probeer doen.]
Water na die see dra. [Iets vir iemand gee wat baie daarvan het.]
Water op sy meul. [Net wat hy verlang.]

Hiponiem:
• flaterwater
• gryswater
• lawaaiwater
• mineraalwater
• rioolwater
• seewater
• soetwater

Afgelei:
• waterbeperking
• waterdruppel
• waterkrisis
• wateronderbreking
• watertekort
• watertenk
• watertoevoer
• waterverbruik
• watervoorraad

Vertaling:
Engels: water
Nederlands: water
Sotho: metsi
Swazi: emanti
Tswana: meetse
Venda: maḓi
Xhosa: amanzi
Zoeloe: amanzi


Werkwoord: water
Verlede tyd: gewater
Teenwoordige deelwoord: waterende

Betekenis:
• Vog afskei; met water bedek; natmaak; urineer.

Gebruik:
• Die kos ruik lekker, my mond water al.
• Het jy die potplante gewater?

Spreekwoord:
• Dit laat my mond water. [Ek kry lus daarvoor.]

Vertaling:
Engels: to water, liquid; to urinate, secrete
Nederlands: wateren

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: tafereel
Volgende onderwerp: Suid-Afrika
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 09 00:40:26 MGT 2024