Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Stockenstrom, Sir Andries
Stockenstrom, Sir Andries [boodskap #124004] Sa, 12 Januarie 2019 19:54
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir Andries Stockenstrom was Luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie van die Kaapkolonie. Op 6 Julie 1792 in die Kaap gebore. Hy was van Sweedse afkoms en seun van ’n ander Andries Stockenstrom, landdros van Graaff-Reinet, wat in 1811 deur die Xhosas vermoor is. Hy begin sy loopbaan as soldaat en word ’n vaandrig in die Kaapse Regiment. Hy onderskei homself in die oorloë teen die grensstamme. Van 1822 tot 1824 moes hy die grens van die Kolonie afbaken. As gevolg van sy prestasies daar word hy in 1828 Kommissaris-generaal van die Oostelike Provinsie en ’n lid van die Goewerneur se Raad van Advies. In 1829 is die taak aan hom opgedra om ’n groot aantal Hottentotte aan die Katrivier tot bedaring te bring, wat baie kritiek ten gevolg gehad het. Tydens ’n besoek aan Europa in 1833 is druk op hom uitgeoefen om met pensioen af te tree. Hy het aanstoot gegee deur vyandige getuienis voor ’n komitee van die Britse laerhuis te lewer oor die koloniste se gedrag. Daar was selfs groter protes toe hy in 1836 aangestel is as Luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie, en dadelik die Provinsie van Koningin Adelaide aan die plaaslike stamme teruggegee het. Hy is op ’n monstervergadering in Grahamstad gevra om sy vyandelike gedrag in Engeland te verduidelik. Onvervaard het hy voortgegaan om vrede te hou met die plaaslike opperhoofde. As gevolg van die gevoel teen hom, het hy betrokke geraak in ’n lastersaak wat hy verloor het. Hy het ’n sterk teenstander van die Voortrekkers geword wat hy probeer dwing het om na die Kaap terug te keer. Daar was andermaal onaangenaamheid in Engeland waar hy éérs afstand gedoen het van sy pos, toé weer sy bedanking teruggetrek het en uiteindelik ’n sirskap en pensioen aanvaar het. Hy het baie onrus in die Suid-Afrikaanse politiek veroorsaak en was ’n aanvegbare figuur tot sy dood in 1864.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Stockenstrom, Andries
Volgende onderwerp: Stokinsekte
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 21:15:15 MGT 2024