Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Jongste uit SA
Jongste uit SA [boodskap #114857] Di, 25 September 2007 09:05
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
Mbeki laat rol Pikoli se kop

Jan-Jan Joubert

Kaapstad. – Pres. Thabo Mbeki se bewind is gister opnuut in
omstredenheid gedompel met sy skorsing van adv. Vusi Pikoli, die
nasionale direkteur van openbare vervolging.

Dit het ook gisteraand geblyk die presidensie gebruik Pikoli se
skorsing as kapstok vir 'n kommissie van ondersoek wat die totale
funksionering en rol van die direktoraat van openbare vervolging gaan
ondersoek.

Mnr. Themba Maseko, die regering se kommunikasiehoof, het gisteraand
gesê die presidensie sal die kommissie se verwysingsraamwerk binne die
volgende paar dae bepaal.

Adv. Mokotedi Mpshe, Pikoli se adjunk, neem intussen in sy plek waar.

Na wat verneem word, is die hoog aangeskrewe Pikoli eergisteraand
heeltemal onverhoeds betrap toe hy na die presidensie in Pretoria
ontbied en sy lot meegedeel is.

'n Beweerde vertrouensbreuk tussen Pikoli en me. Brigitte Mabandla,
minister van justisie, is die enigste amptelike rede wat vir die
skorsing verskaf is. Mbeki het intussen na New York in die VSA vertrek
waar hy vandag die algemene vergadering van die Verenigde Nasies
toespreek (nog berigte op bl. 5).

Oor die rede vir die skorsing is gisteraand intens gegis in hoë kringe
in die regering, die regstelsel en in opposisiegeledere, veral omdat
tersaaklike wetgewing baie voorskriftelik is oor wanneer iemand uit
Pikoli se pos geskors kan word.

Die president mag iemand luidens die Wet op die Nasionale
Vervolgingsgesag uit dié pos skors weens wangedrag, swak gesondheid,
onvermoë om sy taak te verrig of as hy nie meer 'n gepaste en
aanvaarbare persoon is om die pos te vul nie.

“Gepas en aanvaarbaar” is dieselfde term wat by die aanstelling van
regters gebruik word en word beskou as 'n gewigtige en geykte
bewoording wat nie op 'n enkeling se gier of oordeel berus nie.

Niks in die wet bepaal dat Pikoli spesifiek die vertroue van die
minister van justisie hoef te geniet nie en die regering kon by
navraag geen besonderhede oor die beweerde vertrouensbreuk verskaf
nie.

Mbeki se argument teen Pikoli berus na wat verneem word daarop dat hy
nie die bevinding verlede jaar deur die Khampepe-kommissie dat hy moet
skakel met sowel Mabandla as mnr. Charles Nqakula, minister van
veiligheid en sekuriteit, genoeg uitgevoer het nie.

Die Khampepe-kommissie, wie se verslag nooit ten volle openbaar gemaak
is nie, was die terrein van skerp meningsverskil tussen Mabandla en
Pikoli oor die toekoms van die Skerpioene, elite-ondersoekeenheid van
die nasionale vervolgingsgesag.

Mabandla het gemeen die Skerpioene moet onder die polisie ressorteer
terwyl Pikoli gevra het dat die eenheid onafhanklik bly.

Verskeie uitstekend geplaaste bronne, wat uit vrees vir vergelding
naamloos wou bly, het gisteraand gesê hoewel die verhouding tussen
Mabandla en Pikoli deurgaans stram was, het dit onlangs verbeter.

Pikoli het 'n reputasie opgebou dat hy 'n stil, harde werker is sonder
die swier van sy voorganger, adv. Bulelani Ngcuka, en dat hy tydens
die vervolging van onder andere mnre. Jacob Zuma en Glenn Agliotti
geen inmenging geduld het nie.

Dit lyk of Pikoli se skorsing so omstrede gaan wees as die afdanking
van me. Nozizwe Madlala-Routledge as adjunkminister van gesondheid.

Die wet skryf voor dat Mbeki binne 14 dae ná aanvang van die
parlementsitting die parlement van sy besluit in kennis moet stel en
dat die parlement binne 30 dae daarna moet besluit of Pikoli
heraangestel moet word.

Met die parlement wat Vrydag tot 16 Oktober verdaag het, het Mbeki dus
in effek drie weke langer voordat sy besluit deur LP's gedebatteer of
bevraagteken kan word.
Vorige onderwerp: Wat sal jou reaksie wees
Volgende onderwerp: Demokrasie in SA
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 06:59:39 MGT 2024