Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Agteros ...
Agteros ... [boodskap #102205] Vr, 01 April 2005 13:08
Vusi  is tans af-lyn  Vusi
Boodskappe: 2212
Geregistreer: Februarie 2001
Karma: 0
Senior Lid
Haru Urara die verloorperd [Beeld Deurloop - deur Cecile Cilliers] Beeld
31.03.2005

'n Sielige beriggie wat in 'n Japannese koerant verskyn het, het my aan die
dink gesit en daarmee saam 'n verlange na Anton Prinsloo in my laat opvlam.
By al sy ander voortreflike radio-aanbiedings het by op 'n Dinsdagaand altyd
'n vasvraprogram oor Afrikaanse idiome aangebied. Ek het dit baie geniet,
want dit was insiggewend, amusant en leersaam, veral oor die herkoms van ons
idiome.

En dis nou oor die herkoms van een van ons idiome wat ek vanoggend wonder.
Miskien ook nie eens soseer herkoms nie as omstandighede.

Agteros kom ook in die kraal, se ons, maar hoe kom die agteros daar? Met
stampe en stote, sweep en gevloek? Of geduldig, verdraagsaam, bemoedigend,
met begrip vir die arme agteros se onvermoë? Of was die agteros miskien die
een wat altyd agter getrek het?

Hotagter, haaragter ...

'n Wavrag vol vrae en dit alles oor 'n Japannese koerantberig wat in my
e-pos beland het. Vertel die verslaggewer van 'n resiesperd met naam Haru
Urara, "heerlike lente" in Japannees. Maar die sweetvosmerrie is wat haar
resiesuitslae betref allesbehalwe heerlik. In die afgelope

100 wedrenne was dit nie net nag wat haar naellope betref nie, maar midde-in
die winter. Want Heerlike Lente het elkeen van daardie wedrenne verloor, ver
verloor. Maar hier is die hart, die crux van die storie: sy het met die hart
van 'n wenner verloor. En daarom, wat die Japannese betref, geseëvier.
Heerlike Lente is 'n volksheldin.

'n Perd wat nooit 'n resies wen nie, is 'n onwaarskynlike heldefiguur, maar
haar volgehoue pogings "roer 'n snaar aan by die Japannese se geneentheid
vir die hopelose, maar nogtans vasberade sukkelaar, 'n eienskap wat
versterk is deur Japan se ekonomiese ellende die afgelope dekade".

Die media stroom na die merrie se stal en verslae, boeke, poësie word oor
Heerlike Lente geskryf. Bewonderaars stuur kos, blomme, briewe. 'n Rolprent
word beplan. En die wedrenunie het binne drie uur 500 gelukbringers
verkoop wat van Haru Urara se sterthare gemaak is. Dit het glo die mag om 'n
onderneming teen agteruitgang to beskerm.

Tot in die parlement het pre- mier Koizoemi die perd aangeprys as 'n
voorbeeld van vasberadenheid in moeilike tye.

Daar is ook 'n ironiese sy aan die saak: Weens Heerlike Lente se
legendariese gebrek aan spoed word kaartjies met haar naam daarop verkoop om
bestuurders teen verkeersongelukke en spoedlokvalle te beskerm ...

In Japan het Heerlike Lente die inspirasie geword vir digters en skrywers,
volksfilosowe en politici, regeringslui en onderwysers.

Sy is die onderwerp van nadenke oor mislukking en hoe dit oorkom kan word:
'n verloorperd wat 'n wenperd geword het.

In my eie nadenke soek ek na (logiese) parallelle. Daar heers tans so 'n
verloorgees onder ons mense. Ja, ons verloor op die sportvelde, maar is dit
genoeg rede om konstant klaend om die eettafels te sit, brom-brom by die
braaivleisvure te staan? Ons is agterosse, de leste een. Miskien wel
struikelend op pad kraal toe, maar gans onseker of ons regtig daar wil wees.

Nou wonder ek - wat kort ons dan? Bemoediging, die sweep, of dalk 'n
touleier?
Vorige onderwerp: Is Dan Roodt dalk reg oor die geweld deur Afrikane?
Volgende onderwerp: niets
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 21:45:25 MGT 2024