Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Klein Ondeug" deur Jan F. E. Cilliers
"Klein Ondeug" deur Jan F. E. Cilliers [boodskap #120761] Di, 04 September 2018 05:38
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
KLEIN ONDEUG
deur Jan F. E. Cilliers

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug;
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar -
keer voor daar ! liewe deug !

Te laat ! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy hom op sy rug
en trappel fluks tamboer.

Hy's kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
Jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy's weg en stil nou, soos 'n muis -
maar glo my nou's dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy 't al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort,
en hy - een swarte vlek !

Daar val meteens, die solderleer,
ja, soos 'n donderslag !
ons loop te hulp met grootte haas -
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag !

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug - moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.
Vorige onderwerp: "Die Hanswors" deur S.J. Pretorius
Volgende onderwerp: "Slaap" deur D.F. Malherbe
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 15:52:53 MGT 2024