Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » KOM ONS WEES VROLIK
KOM ONS WEES VROLIK [boodskap #15876] Sa, 20 Junie 1998 00:00
Danie Martins  is tans af-lyn  Danie Martins
Boodskappe: 37
Geregistreer: September 1996
Karma: 0
Volle Lid
Tussen al die ouens wat mekaar so aanvat op hierdie
nuusgroepe, wil ek darem so 'n stukkie vrolikheid
ingooi. Geniet die volgende kostelike dinge wat
kinders kwytgeraak het.

**************

Maria se kinders is al groot en uit die huis uit. Twee
dogtertjies van vriende kuier by haar en haar man.
Kuier is vir die twee baie lekker en met die vertrek
is almal bietjie droewig. Maria kla:" Ag ja, nou bly
ek alleen agter, sonder kindertjies en ek kan ook
nie meer van my eie hê nie", maar voor sy iets kon
sê van "te oud" val Mia haar in die rede met:
"Hoekom nie, is jou melk dan suur".

**************

Dylan was so vyf toe hy sy oupa voor die
badkamerspieël sien staan met bolle skuim om sy
mond soos hy skeer. Hy roep sy pa: "Kom kyk!
Oupa het hondsdolheid!"

**************

Die gesin ry met die motor op die deurpad. Die pad het
drie bane. Pa ry in die middelste baan. Voor ry twee
vragmotors. Die een ry in die linkerbaan soos dit hoort.
Die ander ry in die regterbaan soos dit nie hoort nie. Pa
het 'n rukkie agter hulle gery, om te kyk wat die een in
die regterbaan se plan is, maar hy bly regs. Pa besluit
om maar die kans te vat en tussen hulle deur te ry. Toe
pa-hulle tussen die twee vragmotors is, is dit 'n hengse
lawaai. Hulle kom anderkant uit en Willem wil weet:
"Pa, is ons nou deur die klankgrens?"

**************

Klein Rudi en sy ma gaan haal eiers by die hoenderhok.
"Haai, Rudi, kyk net hoe klein is hierdie ou eiertjie.
Ek wonder hoekom..??"
"Ag, ma, die hoender was maar seker hardlywig".

**************

Dylan was in die bad. Soos kinders maar is, het hy met die
skuim, die seep, die waslap en wat nie al gespeel nie. Later
wonder Ma hoe hy vorder en besluit om te gaan kyk.

Toe sy in die badkamer kom, staan sy geslagsdeeltjie
kiertsregop. Op Ma sê vraag wat nou aangaan, kom
die droë antwoord: "Ma, dis net tottie, hy doen oefeninge!!"

**************

Ek pos gereeld sulke kinderssêgoed aan 'n paar honderd
Internetters. Indien jy dit ook wil ontvang, stuur net 'n E-pos
aan my by [dm...@lantic.co.za] met die woorde "Staaltjies"
en ek plaas jou op my adreslys.
Ek belowe dat ek nie aan jou gemorspos sal stuur nie EN ek
stuur die staaltjies met verskuilde adresse, dus sal die ander
ontvangers nie jou adres kan sien nie. Indien jy dit 'n paar
dae ontvang het en jy voel dat ek besig is om jou tyd te mors,
sal ek op versoek jou naam van die lys skraap.

Groete,

Danie [dm...@lantic.co.za]
Vorige onderwerp: Totsiens
Volgende onderwerp: Kvd M
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 09:01:38 MGT 2024