Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bambaat-opstand (Bambata-rebellie)
Bambaat-opstand [boodskap #126203] So, 26 Mei 2019 19:43
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Bambaat (regs) met 'n helper.
Bambaat (regs) met 'n helper.
Die Bambaat-opstand (of Bambata-rebellie) was 'n opstand in 1906 onder die Zoeloes van Natal weens ontevredenheid oor Britse koloniale oorheersing en kopbelasting. Dit is gelei deur Bambaat (ook Bambata of Bambatha), ’n klein opperhoof uit Greytown se wêreld. In Zoeloeland verkry hy ’n aansienlike aanhang. Die Natalse staande mag en vrywilligers uit Transvaal onder aanvoering van kol. McKenzie het daarna gedurende Mei en Junie in Zoeloeland opgetree. Die opstand is geheel en al onderdruk en Barabaat het omgekom. Dinizulu, van aandadigheid in die opstand verdink, is gevang en verhoor, maar op alle aanklagte onskuldig bevind behalwe dat hy opstandelinge onder sy beskerming geneem het. Hy is tot 4 jaar gevangenisstraf veroordeel.

Die oorsaak van die opstand kon nooit duidelik vasgestel word nie, maar dit word algemeen toegeskryf aan 'n nuwe stelsel van belasting en ook 'n vermindering van die gesag wat deur die blankes uitgeoefen is na die pas afgelope Tweede Vryheidsoorlog. Die onrus het in Januarie 1906 ontstaan en op die 30ste van die maand word twee polisiemanne vermoor. Dit is gevolg deur die moord op 'n magistraat, mnr. M. Stainbank, en ander amptenare. Troepe is gemobiliseer en die moordenaars van die twee polisiemanne is op 2 April op Richmond in Natal in die openbaar tereggestel. Bambata, een van die vernaamste leiers, het in die Nkandlha-bos gaan skuil, waar hy die steun van Dinizulu gekry het. Teen dié tyd was die grootste deel van Zoeloeland opstandig en sowel die Natalse vrywilligermagte as troepe van Transvaal moes ingeroep word. Bambata is uiteindelik gedood en Dinizulu gevange geneem. Die krygsverrigtinge was oor teen Augustus 1906, maar die rebellie kos Natal byna £1,000,000 terwyl baie manne gedood en gewond is. Na berekening het die verliese onder die rebelle meer as 2,000 beloop.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Balzac, Honoré de
Volgende onderwerp: Bamboes
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 17:23:54 MGT 2024