Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Ballade
Ballade [boodskap #126169] Sa, 25 Mei 2019 14:38
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Ballade is 'n digvorm wat waarskynlik uit die danslied ontstaan het (Italiaans: ballata - danslied). ’n Ander verklaring soek die oorsprong van die woord in die Keltiese gwaellawd - volkslied. Daar word tussen twee tipes onderskei:

1. Franse ballade wat hom deur sy uiterlike vorm onderskei en oorwegend liries van aard is. Sy grootste beoefenaar is Frangois Villon (15de eeu). Van sy ballades is in Afrikaans vertaal deur Uys Krige. Na 1500 raak dié vorm in verval, maar word in ons tyd weer soms beoefen, bv. N.P. van Wyk Louw ("Ballade vir Jan se fees").

2. Die Volksballade, ook genoem Romantiese ballade, is oorwegend epies van aard en laat hom veral aan sy stof ken. Baie van dié ballades het onder die volk geleef, is mondeling oorgelewer en eers later opgeteken. Dit raak gedurende die Renaissance op die agtergrond; maar is tydens die Romantiek druk beoefen veral in Duitsland en Engeland: Goethe, Schiller, Bürger, Coleridge. Ook in Afrikaans, o.a. E.N. Marais ("Mabalel"), C.L. Leipoldt, I.D. du Plessis. Die gedigte laat hulle ken deur snelle verhaaltrant, konkrete voorstellingswyse en obsessionele herhaling van klanke en reëls. Naas romantiese ballade in Afrikaans ook die "moderne" ballade soos beoefen deur D.J. Opperman ("Ballade van die Grysland" en N.P. van Wyk Louw ("Ballade van die Bose"). Ook in die musiek word die term gebruik vir romanties-verhalende stukke, vokaal soos by Schubert, instrumentaal soos by Chopin en Brahms.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Balkan
Volgende onderwerp: Ballantyne, Robert Micheal
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 01:01:24 MGT 2024