Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aartappel-drukwerk
Aartappel-drukwerk [boodskap #124824] Ma, 18 Februarie 2019 19:55
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Aartappel-drukwerk is ’n vinnige manier om ’n stuk doek of papier met ’n patroon te bedruk. Soek ’n middelslag, rou aartappel en sny dit middeldeur; sny dit nou só dat ’n kubus eenkant uitstaan met sy vooraansig 1 tot 2½ cm vierkant. Sny nou met ’n skerp messie ’n patroon daarop uit (begin maar liewer met 'n eenvoudige patroon soos ’n kruis of reghoek). Die uitstaande patroon sal op die papier wys.

Vir afdruk op papier moet die papier se oppervlakte nie te blink wees nie. Verf die aartappelpatroon met dikkerige verf en druk dit op die papier. Dit gee die eerste afdruk, en deur die proses nou langsaan te herhaal, kan jy ’n interessante patroon uitwerk. Dit is raadsaam om oortollige verf eers van die aartappel af te kry deur dit op ’n stuk lap te druk voor die patroon op die papier gedruk word.

Eksperimenteer maar met die patrone. As jy die eerste patroon nie te diep op die aartappel inkerf nie, kan jy dieselfde kubus nog etlike kere gebruik deur net die boonste patroon af te sny en ’n nuwe uit te kerf. Onthou die aartappel sal inmekaar krimp as dit oorstaan. Werk dus dieselfde dag wat jy die aartappel aangesny het daarmee klaar. Waterverf sal baie goed op papier afdruk, maar op doek sal jy olie- of sjabloon-verf nodig hê. Dit koop 'n mens in buisies.

Voor jy op doek verf, moet jy dit met duimspykers oor 'n dik onderlêer van koerant of kladpapier span. Meng die verf met ’n baie klein bietjie terpentyn op ’n stukkie glas of enige glasuuroppervlakte. Druk die aartappel op die verf en toets die patroon eers op ’n stukkie afvallap. Bedruk die boek so vinnig as moontlik as die verf net reg is.

Party mense trek eers vooraf ligte potloodstrepe met ’n liniaal om as leidraad vir die patrone te dien. Maar as jy eers op papier geoefen het, is jy teen die tyd moontlik al bedrewe genoeg. ’n Mens kan organdie, linne, vensterstof of enige materiaal met ’n gladde, egalige weefsel bedruk. Olieverf sal nie uitwas nie. Die bedrukte stof kan jy gebruik vir die maak van serpe, sakdoeke, kragies, kussings of gordyne.

Bron: Die Skatkis: Algemene kennis en naslaanwerk, ISBN 0-7966-0014-7

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Aardkunde
Volgende onderwerp: Abdy
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 25 21:49:44 MGT 2024