Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Netbal
Netbal [boodskap #124709] Do, 31 Januarie 2019 08:32
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Netbal word gespeel.
Netbal word gespeel.
Netbal is 'n gewilde sport vir vroue wat deur twee spanne van sewe lede elk gespeel word. Dit het ontstaan in die VSA as 'n variant van basketbal. Die grootste verskil is dat die bal nie soos in basketbal gehop mag word nie. Die spel is veral gewild in die Britse Statebond, maar word deur nagenoeg 20 miljoen speelsters in meer as 70 lande gespeel. Die eerste spelreëls is in 1895 deur Clara Gregory Baer opgestel, maar vandag word die spel deur die Internasionale Netbalfederasie gereël.

Die doel van die spel is om soveel punte (doele) as moontlik aan te teken deur die bal vanuit 'n bepaalde area (doel derde), deur 'n ring (die korf of hoepel van 380mm in deursnee) te gooi wat aan 'n paal (3,05m) vas is. Die spel is gebaseer op gooi- en vangtegnieke en is ontwerp vir enkelgeslag-mededinging.

Netbalspelers mag nie met die bal loop (vorentoe tree) of die bal vir langer as 3 sekondes vashou nie. Die bal word voortdurend tussen spelers gegooi en gevang totdat dit deur die korf gegooi kan word om 'n punt aan te teken. Daar is sewe vaste posisies op die veld, wat bepaal waar elke speler op die baan mag beweeg.

'n Netbalwedstryd duur normaalweg 60 minute, wat verdeel word in vier (4) kwarte van 15 minute elk. Daar is twee (2) rustye van drie (3) minute tussen onderskeidelik die eerste en tweede kwart en tussen die derde en vierde kwart en 'n rustyd van vyf (5) minute word tydens halftyd toegestaan. Die tydsduur word verkort vir jonger spelers.

Die spelposisies is as volg:
• 2 x Doel-spelers (die D=hoofdoel en HD=hulpdoel);
• 3 x Senterbaan-spelers (die AV=aanvallende vleuel, S=senter en VV=verdedigende vleuel) en
• 2 x Verdedigers (die HV=hulpdoelverdediger en V=hoofdoelverdediger).

Elke speelposisie beweeg in onderskeidelik een, twee of drie derdes. Geen span mag met minder as vyf (5) spelers 'n wedstryd speel nie en daar moet te alle tye 'n speler in die senterposisie wees.

Die spel het talle reëls, waaronder:
• As 'n doel (D) die bal skiet (na die korf gooi), maar dit mis sonder dat dit die korf raak, moet die doel wag totdat 'n ander speler eers aan die bal raak of totdat die bal hop voordat sy weer aan die bal mag vat.
• 'n Speler mag die bal slegs vir drie sekondes vashou.
• Daar mag nie met die bal vorentoe beweeg word nie.
• As 'n speler verdedig, moet sy 3 voet (ongeveer 1 meter) van die speler met die bal wees, andersins word dit as obstruksie beskou.
• 'n Speler mag nie die bal laat hop en self weer vang nie.
• 'n Speler mag nie aan 'n ander speler raak nie (kontak maak nie).
• 'n Speler mag nie 'n deel van die veld betree wat nie vir haar posisie toegelaat word nie (onkant).
• 'n Speler wat die bal skiet of verdedig mag nie die paal as ondersteuning gebruik nie.
• Geen meisie mag van buite die halfsirkel skiet of oor 'n derde beweeg nie.

'n Paar Engels-Afrikaanse netbalterme:
Attack — Aanval
Centre (C) — Senter (S)
Defend — Verdedig
Court — Baan
Three Foot Rule — Drievoet-reël
Goal — Doel
Goal Attack (GA) — Hulp Doel (HD)
Goal Defence (DG) — Hulp Doel Verdediger (HV)
Goal Keeper (GH) — Verdediger, hoofdoelverdediger (V)
Goal Shooter (GS) — Doel, hoofdoel (D)
Hoop — Korf, hoepel, ring
Injury time — Beseringstyd
Netball — Netbal
Obstruction — Obstruksie
Offside — Onkant
Replay — Speel oor, herspeel
Shoot — Gooi, skiet ('n doel)
Shooter — Skieter, balskieter, doelskieter
Referee — Skeidsregter
Penalty goal — Strafgooi
Wing — Vleuel
Wing Attack (WA) — Aanvallende Vleuel (AV)
Wing Defence (WD) — Verdedigende Vleuel (VV)
Whistle (blow) — Fluitjie (blaas)

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Zwelitsha
Volgende onderwerp: Mpumalanga
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 18 15:37:09 MGT 2024