Supertaal
Waarin ons vriendelik en gesellig saam kuier!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Tinkie se "Big Time" ('n Suidwes-storie)
Tinkie se "Big Time" [boodskap #120983] Ma, 12 November 2018 07:20
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 349
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 19
Senior Lid
Doer in die Noorde, destyds, toe Transnamib nog Spoorweg was, het Tinkie as rangeerder sy daaglikse brood verdien. Dit sal miskien verkeerd wees as mens hom sou sien as 'n figuur wat uitgestaan het tussen ander. Daarvoor was hy te maer en tingerig. Of so het almal gedink. Tot die dag wat die ware Tinkie opgestaan het, sy skuldeisers een na die ander gaan spreek het omtrent sy agterstallige paaiemente, 'n maand ekstra uitstel gevra het en aangekondig het dat hy siek en sat vir sy werk as shunter was, ook siek en sat was vir ander mense wat hom wat Tinkie was op baie dieselfde wyse rondgeshunt het en dat hy gevoel het dat die Ware Tinkie nou sou opstaan en vir almal wys wie hy regtig was. So ernstig was hy dat hy daar en dan uit die die Spoorweg bedank het.

Hy en sy neef Hennie het alles haarfyn beplan: Hulle sou op toer gaan as 'n 'band' musiekmakers. Hy wat Tinkie was as bass guitar (baskitaar) en Hennie as sanger en lead guitar (hoofkitaarspeler).

Op daardie stadium was min mense bewus van Tinkie se vaardighede in die musiekrigting, maar Hennie was dwarsdeur die land bekend as 'n man wat kon jodel soos min en Ramona kon sing dat al wat 'n antie was in trane uitgebars het by die hoor daarvan. Tinkie en Hennie het nog 'n ander eienskap ook gedeel: Dis te betwyfel of enigeen hulle ooit anders as met hul permanente hartseer gesigte gesien het. Hennie met sy kenmerkende diepdenkende hartseer en Tinkie met sy verslae uitdrukking van hartseer waarmee hy in rondeoog kyke almal naby hom ewe ongelukkig laat voel het, al kon hulle nie hul vingers op die rede vir hul eie swaarmoedigheid lê nie.

Hoe dit ook al sy; die toer sou in Windhoek in die ou Sam Cohen saal afskop en dan so Upington langs Durban toe gaan. Die twee was oortuig dat hulle, teen die tyd dat hulle in Natal aankom, hulle al wêreldberoemd sou wees.

In Windhoek het hulle nogal 'n taamlike opkoms gehad. Deur die loop van die aand het die ingesmokkelde versterkmiddels ook hul ding gedoen en later die aand het Hennie sy kans gesien. "Tinkie" het hy gesê. "Daardie blond bekyk my nou al die hele aand. Speel jy bietjie alleen, dan vat ek haar vir 'n dans." Die een dans het later drie, vier danse geword en die arme Tinkie was stokflou terwyl Hennie lekker uitgekap het. Hier by die laaste nommertjie vir die aand, 'Goodnight Irene' was Hendrik darem op sy pos terug om die 'afskeid' dramaties uit te snik. Maar dit was nie al nie. Hy het goeie nuus gehad. Sommer baie goeie nuus, moes Tinkie hoor: Die girl het gesê hulle moes na die dans 'n ietsie saam met haar in haar woonstel gaan drink.

Miskien moet Tinkie nou maar self aan die woord gestel word, om te sê wat die aand toe opgelewer het:
"Manne. Julle moet nou nie lag nie. Maar daardie aand het ek die einde my in die gesig sien staar. By haar woonstel het sy ons ingenooi en ek sal nooit vergeet nie, ou Hennie nog so in die verbygaan 'n knyp op die boud gegee. Sy moes dit darem met my gewaag het..."

"Sy het 'n lekker groot woonstel gehad met 'n groot en swaar wit hangkas wat volgens haar, voor 'n deur staan wat gelei het na 'n ander woonstel. In 'n ander hoek was daar 'n soort van kroegtoonbank. Dis ook daar waar ons ons tuisgemaak het."

"Ek het gesê; tuisgemaak, maar dis nie eintlik die regte woord nie, want ons het skaars gesit of die voordeur word met 'n helse slag skoon uit sy slot geslaan. En daar in die deur, kant aan wal en rooikrulhare wat skuur teen die kosyn se bokant, staan die grootste man wat ek in my lewe gesien het. Net die gedagte aan sy woorde van toe gee my nou nog maagwerkings. Hy dreun, nie praat nie, dreun toe daar in die deurkosyn."

"Wat soek julle by my verloofde?" Ou Hennie het nog nadergestaan deur toe, om te verduidelik, maar met een tree was die man by hom en slaan vir ou Hennie dat hy die lengte van die vertrek handeviervoet deurhardloop. Toe hy so by my verbykom het ek geweet dat die einde naby was. Maar nood leer mos bid, sê hulle. En ek kan vandag, soos ek hier staan, getuig van die waarheid daarvan. Ou Hennie het nog nie eers teen die ander muur neergeslaan nie, toe ek daardie wit hangkas gryp, dit daar eenkant neersit en deur die skeidingsdeur in die ander woonstel inhardloop. Reg in 'n meisie se slaapkamer in waar sy net besig was om haar nagklere aan te trek. Sy skree toe net; Oh! (gevolg deur 'n Groot woord uit die hemel!)

Gelukkig was ek nog by magte om in die verbyhardloop haar gerus te stel. Nee, het ek gesê; Dis nie Hy nie, dis net ek. Maar ek is op pad uit. Laat daardie nag, veilig in ons treinkompartement, maar nog aan die bibber, het ek vir Hennie gesê: "Hennie, op hierdie toer gaan ons stukkend gemxxr word." En dit was ook so.

-- Marietjie du Plooy
Vorige onderwerp: Die Valies en die mosselwyser
Volgende onderwerp: Bier
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Jul 22 06:27:40 UTC 2019