Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Pik Botha oorlede
Pik Botha oorlede [boodskap #120816] Sa, 13 Oktober 2018 08:49
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
/fa/40/0/Die kleurvolle politikus, Pik Botha, is op 12 Oktober 2018 by sy huis in Pretoria oorlede nadat sy organe ingee het. Hy was 86 jaar oud. Almal het nie noodwendig met sy standpunte saamgestem nie, maar as die man gepraat het, het die mense aan sy lippe gehang. Een van sy bekendste sêdinge was: "Dit maak nie saak of jy 'n sebra ('n metafoor vir Suid-Afrika) deur die swart streep of deur die wit streep skiet nie, die hele dier vrek." Hy was ook bekend vir sy omstrede opmerking tydens die Apartheidsjare dat hy nie sou omgee om onder 'n swart staatspresident te dien nie.

Botha is op 27 April 1932 op Rustenburg in die Transvaal gebore. Hy het in 1953 by die departement van buitelandse sake aangesluit en het in Swede, Duitsland en in Den Haag diens gedoen. In 1974 het hy Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies geword. 'n Jaar later is hy aangestel as Suid-Afrika se verteenwoordiger in die VSA en op 1 April 1977 het hy Suid-Afrika se Minister van Buitelandse Sake geword.

Botha was een van die groep "gematigde" lede van die Nasionale Party wat deelgeneem het aan die politieke maneuvers om 'n opvolger vir B.J. Vorster as Eerste Minister te kry. Hy was ook nou betrokke by die onderhandelings wat uiteindelik tot vrede in Angola en die onafhanklikheidswording van Namibië in 1990 sou lei.

Botha het later as Minister van Mineraal- en Energiesake (1994-1996) in die regering van nasionale eenheid onder Nelson Mandela gedien totdat die Nasionale Party hom van die regering onttrek het. In 2000 het by die African National Congress aangesluit. Hoewel hy die ANC-regering aanvanklik ondersteun het, het hy hulle later jare ook skerp gekritiseer.

Met 'n dienstyd van 17 jaar, was hy een van die wêreld se langsdienende ministers van buitelandse sake. Dit is seker ook veilig om te sê dat hy Suid-Afrika se langste dienende diplomaat was. Hy sal onthou word as die man was Apartheid by die VN moes verdedig, vir die vrede wat in Angola gesluit is, Namibië se onafhanklikheid en sy betrokkenheid by Suid-Afrika se oorgang na 'n swart meerderheidsregering in 1994.
  • Aanhangsel: Pik_Botha.jpg
    (Grootte: 25.43KB, 676 kere afgelaai)
Vorige onderwerp: Krugerdag
Volgende onderwerp: Swart Twitter Vier Afsterwe van Pik Botha - Telegraaf.co.za
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 20:06:11 MGT 2024