Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Die ledigheid van ons gewig (deur C.J. Langenhoven)
Die ledigheid van ons gewig [boodskap #120641] Di, 26 Junie 2018 05:06
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
DIE LEDIGHEID VAN ONS GEWIG

Dit betéken nie altyd veel om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.

En oral waar daar 'n dooie is onder 'n geselskap van lewende nablywendes is dit sy geheimsinnige, akelige, ontsagwekkende gelaat wat die aandag trek. Die trekke is nog dieselfde, maar tog nie dieselfde nie: die uitgebluste vuur van die lewe, lyk dit, het plaas gemaak vir 'n uitsig op die oneindige agter die gordyn. So iets van die majesteit van die dood ontwaar ons ook - 'n skaduwee daarvan, 'n suggestie - op die gelaat van 'n suigeling, van 'n blinde, van 'n kranksinnige. Dis die Sphinx·uitdrukking van misterie.

Maar die aandag-soekery, die sug om die senter van opmerksaamheid te vorm, wat ons nou bedoel is van 'n ander gehalte. Die vóor-aansitters en vóor-aanbidders in die Sinagoge is nie uitgesterf nie. In elke buurte, by elke samekoms, tref jy éen van hulle aan: somtyds meer, maar nooit te veel nie, want dan druk hulle mekaar wedersyds uit: waar almal vóor-sit, daar sit geeneen vóor nie. Ons ken almal die soort man. As hy nie die voorsitter-stoel beklee nie, dan spring hy die eerste op om die voorstel te maak wat enige ander esel (as daar nog is) ook kon gemaak het. "Kêrels;' sê hy (of "Afrikaners"; of "broeders" na gelang van die doel van die byeenkoms), "ons moet bymekaar staan." Hy meen ons moet agter hom staan. Nou sou jy sê die man het 'n verwaande dunk van homself. Eintlik het hy 'n slaafse respek vir die goedkeuring van sy mede-mens, anders sou hy nie soveel moeite doen om notiesie van geneem te word nie.

Tog moet ons dit vir hom sê: in die politiek win hy altyd 'n sekere maat van invloed. Want vereers: die politiek is almal se besigheid en dus niemand se besigheid nie. En, ten twede, in die politiek geld die beginsel nie dat die laaste die eerste sal wees nie. Niemand is angstig om iemand anders op die voorgrond te stoot nie, dus kan alleen diegene op die voorgrond kom wat hulleself daarheen stoot. En as dit dan so is, dat dié soort indringer gewoonlik daarin slaag om 'n politieke rang te verwerf, beteken dit dan nie tog darem veel om so 'n man van belang te wees nie? Vir homself, ja. Die belang is groot in sy oë. Die persoonlike voordeel ook dikwels, Maar die belangstelling kan jy ook uitlok as jy 'n sensasie-wekkende misdaad pleeg, as jy met jou buurman se vrou wegloop, as jy dronk deur die straat waggel.

Ledig is mense-roem: ydelheid der ydelhede. Ek en jy leser, weet dit want ons streef nog ons lewe lank daarna. Tiengelieng·tieng, tiengeliengelieng! Kom dans na ons klokke: ons is voorbokke.

-- C.J. Langenhoven
Vorige onderwerp: Die roem van ons werk
Volgende onderwerp: Die ydelheid van ons woorde
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 23 23:04:22 MGT 2024