Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Musiek & liriek » Die HOOGLIED as genre. 'n Lied van Andre Letoit
Die HOOGLIED as genre. 'n Lied van Andre Letoit [boodskap #7568] Sa, 02 November 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
In die Middel-Ooste is daar al vir duisende jare 'n
tradisie van die liefdeslied te gebruik om jou liefde vir
God uit te druk. Dis uit daardie tradisie wat ons die
lieflike "Hooglied van Salomo" in die Bybel kry:

"Hoe mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter!
Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade,
'n werk van kunstenaarshande."

Een van die beroemdste godsdienstige digters in hierdie
tradisie was RUMI (1207-1273) wat in Afghanistan
gewoon het, toe nog deel van die Persiese koninkryk. Hy
verklaar:

"Moenie dink dat alle soorte ekstase
dieselfde is nie.
Enige wyn kan vir jou dronk maak.
Oordeel soos 'n koning, en kies die suiwerste."

"Die oomblik toe ek my eerste liefdesverhaal gehoor het,
het ek begin om vir jou te soek; maar ek het nie besef
hoe dom ek was nie.
Geliefdes ontmoet nie uiteindelik erens vir mekaar nie.
Hulle is binne in mekaar die hele tyd."

Nog 'n beroemde digter wat in hierdie tradisie skryf, was
KABIR, die vyftiende eeuse Ekstatiese Sufi Moslem digter
van Benares, op die Indiese subkontinent. Hy verklaar:

"O vriend, ek het jou lief. Dink versigtig daaroor.
As jy verlief is, hoekom is jy dan aan die slaap?

As jy hom gevind het, gee jouself aan hom,
neem hom as jou eie.

Hoekom verloor jy hom keer op keer?"

Dis in hierdie tradisie dat ons die volgende gedig van
Andre Letoit moet verstaan. Die groot oordadigheid,
die energie en die vreugde in die woorde is nie alleen
vir een besondere vrou nie. Dis 'n pryslied vir al die
wondere van die heelal, vergestalt in die teenwoordig-
heid van 'n geliefde:


Winterpad ( uit "Die Bar op de Aar.")

Ek wil my deken met jou deel
Daar's prentjies van mooi bome op
Ek wil nagdeur jou vrugte steel
En die skille in my hand omdop
Ek wil jou uitsuig soos lemoene
Hoog raak op jou soene
Verlei maar my spioene
Kom deel my bedsprei en nog wat
Kom rook die pyp met my majat
Winterpad my willegat

Daar's pinball-games diep in jou oe"
Daar's twintigsente op jou bors
Jou water kom direk van bo
En soos die hert het ek ook dors
Ek sal jou inryg soos rooi krale
Ek sal jou rook soos my sigare
Jou vel, jou hande en jou hare
Oompie het 'n vark gery
Maar jy's vir altyd bo-op my
Winterwei my lekkerkry

Krismisrose in die tuin
Poliesmanne in die townships
Luister-bugs in die gordyn
Wie gaan next time opslip?
Kanker op die wit veranda
Jou troepe roep 'n hees amandla
Vlug jou oe" na ander lande?
Vroutjie, wees my noodtoestand
My hele lyf is aan die brand
Winterland my watertand.

'n Mens moet in ag neem dat hierdie woorde van
'n lied is wat gesing moet word. Jy vergewe dus die
stilistiese sondetjies hier en daar. Dit amuseer ook dat
hy sommer so glad oorgaan tot die gebruik van beelde
uit die apartheidsjare. Op 'n sekere manier word die
gedig dan ook 'n protes-stuk. Maar in die laaste analise
bly dit vir my nog 'n "hooglied."

gloudina bouwer
Vorige onderwerp: andre letoit
Volgende onderwerp: Boeremusiek
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 18:47:05 MGT 2024