Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Musiek & liriek » Rock in jóú taal
Rock in jóú taal [boodskap #117765] Sa, 21 Junie 2008 18:25
Daun Johnson  is tans af-lyn  Daun Johnson
Boodskappe: 1155
Geregistreer: Januarie 2009
Karma: 0
Senior Lid
Rock in jóú taal
Jun 19 2008 03:02:54:847PM - (SA)

Beer Adriaanse vertolk die rol van Johnny de Goede in MK 89 se nuwe
musiekdokumentêr, Johnny en die Maaiers. Dit vertel die storie van 'n
jong musikant se strewe na sukses teen die agtergrond van Afrikaanse
musiek se ontwikkeling oor die afgelope 40 jaar.

Francois Oosthuizen


As jy nog altyd gewonder het hoekom Afrikaners gaande was oor Gé
Korsten of hoekom Van Coke Kartel so genadeloos op jou ore is, moet jy
Johnny en die Maaiers kyk.

Hierdie nuwe dokumentêr op MK 89 bekyk die geskiedenis en ontwikkeling
van Afrikaanse musiek oor die afgelope 40 jaar en hoe dit deur
politiek, tegnologie en modes beïnvloed is.

Die vervaardigers, Third World Media, se aanvanklike opdrag was om 'n
antwoord te soek vir die vraag hoekom die jeug vandag na Afrikaanse
musiek luister, maar dit nie 40 jaar gelede gedoen het nie. Dit het
gou duidelik geword dat hierdie vraag nie 'n enkele eenvoudige
antwoord het nie.

Die een deel van die dokumentêr volg die loopbaan van Johnny de Goede,
gespeel deur Beer Adriaanse. Johnny is 'n aspirant-rocker wat by 'n
videowinkel werk. Sy loopbaan beklemtoon die uitdagings in die
mededingende Suid-Afrikaanse musiekbedryf, maar dit ondersoek ook die
kunstenaar se soeke na 'n eie stem en genre.

Johnny se verhaal speel af teen die geskiedenis van Afrikaanse musiek
van die afgelope 40 jaar. Veral jonger mense sal baat vind by
insetsels oor die struggle van Afrikaanse sangers soos David Kramer en
Anton Goosen teen die ou Nasionale Party se sensuurraad.

Een van die indrukwekkende aspekte van die dokumentêr is die groot
hoeveelheid bekende en invloedryke mense in die musiekbedryf wat
bydraes gelewer het. Rubriekskrywers soos Chutney de Ridder en Deon
Maas sowel as musiekbase en organiseerders van nasionale kunstefeeste
soos die KKNK en Oppiekoppi het insette gelewer. Om nie eers te praat
van musieklegendes soos Koos Kombuis, Hamma van Brasse van die Kaap en
Karen Zoid nie.

Volgens mnr. Johan Beukes van Third World Media en regisseur van
Johnny en die Maaiers was hul grootste uitdaging om 'n dokumentêr te
maak wat geskiedkundig korrek is, maar ook vir 'n jeugmark aantreklik
is.

"Die keuse van musiek sowel as die manier waarop dit die redigering
aandryf, is spesifiek op 'n jonger mark gerig," het Beukes gesê.

Die dokumentêr maak gebruik van die fanzine-styl wat deur
musiektydskrifte van die jare '60 en '70 beroemd gemaak is. In plaas
van direkte verwysings maak die vervaardigers gebruik van laterale
verwysings soos 'n produksielyn wat fortuinkoekies vervaardig om te
verwys na die groot hoeveelhede CD's wat jaarliks verkoop word.

Een van die interessante vrae is wat beteken dit om cool te wees. Met
uiteenlopende menings van Sonja Herholdt tot Hunter Kennedy is daar
wel konsensus dat die jeug besluit wat is cool en wat nie.

"Hoewel die dokumentêr met 'n definitiewe vraag begin, is daar geen
enkele antwoord daarop nie. Johnny en die Maaiers gee die feite en die
geskiedenis, maar die kyker kan sy eie afleidings maak," het die
akteur Neels van Jaarsveld oor die dokumentêr gesê.

Hulle beplan nou om die dokumentêr by oorsese rolprentfeeste te
vertoon. Volgens Beukes is daar reeds 'n moontlikheid vir 'n
bekendstelling in New York.

) Johnny en die Maaiers sal Maandag om 20:00 die eerste keer op MK 89
te sien wees.
Vorige onderwerp: Welcome back, Springbok Radio
Volgende onderwerp: UITSAAI PROJEK, AFRIKAANSE MUSIEK SKRYWER EN SANGER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 25 06:21:34 MGT 2024