Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " die kommunis onthou " deur BREYTEN BREYTENBACH
" die kommunis onthou " deur BREYTEN BREYTENBACH [boodskap #98804] Ma, 27 September 2004 17:14
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
die kommunis onthou

Breyten Breytenbach

herfs: en die aanbreek van 'n kouer seisoen

binne smeulende einders

somerdrome van opstand en vrede

kantel weg in die geheue

is dooie spinnekoppe oor die papier

vasgevang op Toringstad se sypaadjies

in glans weerspieël deur glassteiltes

waar wolke swem

(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)

sit ou Chinese dames met dooie ooglede

kruisbeen in beswyming

om te betoog teen die marteling van Falun Dafa

geel taxi's skel 'n flitsberig klanke

van wand tot wand deur weerklinkende klowe

onder struike in die park steek die skurwe enkels

en stukkende voete van 'n buiteslaper uit

met donker is die stad 'n druisende hart

vol verskuilde passies en slapelose bewegings

'n dwarreling wit motte elk so groot

soos 'n wuiwende hand skitter en kolk

en vuis in die blou suile van skynwerpers

wat die nagruim aftas

bo die gaping waar daar eens

hemelsteierende wolkekrabbers van die kapitalisme was

en nou nog net 'n kuil verlore gedagtes

helikopters dartel soos motte uit die hel

bo die somber woud van spitse en skoorstene

en skiet strale lig neer oor dak en binnetuin en steeg

wie het jou ooit 'n holte vir die voet belowe?

wie het geweet alle gelowe lei tot slagting?

wie het vermoed die gewete word 'n verkreukeling

van vergeet binne smeulende einders?

wanneer vuurwaens ophou loei

en die maan soms 'n vreemde bloeisel is

en in losies van sluimerende deurwagte

beeldskerms stom hul oorlogsnuus flikker

hurk jy op die balkon en wag

vir die wakkerword van die meeu en die kraai

op uitkyk vir die draai

van 'n eerste veegsel lig bo Oosrivier

soos die herinnering uit 'n ander verder land

met somerdrome van opstand en vrede

wat jou in die stom taal nog wys kom maak

dat daar landerye groen was in jou verlede

platdakke, riete, 'n wind en rook

en wanneer dit helder genoeg is

sal jy weer jou hande gewaar

(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)

nou reeds die kleur van verskimmelde pampoen

en wéét spinnekopbloed oor bleek papier vertel:

so word jy sterwende woord vir woord

met die wonderwerking van die dood versoen
Vorige onderwerp: " Werktuigkundige " deur S.J. PRETORIUS
Volgende onderwerp: " Ek vra jou mos " deur DAVID KRAMER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 20 13:34:42 MGT 2024