Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Taalkadastraal " deur T.T. CLOETE
" Taalkadastraal " deur T.T. CLOETE [boodskap #98407] So, 19 September 2004 00:16
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
TAALKADASTRAAL
T. T. Cloete

ons het elke klip lief van die land

elke plek, ons het hom vol geurige name geplant
soet waatlemoen suursout hondepisbos.langs die beesklou
lê ons spoor versigtig getrap. In die Nossob van Kousant
oor Kij-kij na Kameelsleep en Dikbaardskolk

loop ons spoor. daar is 'n mooi manier van verbrou

die kerkoomhot die sonkyker is 'n ouvolk

ander name is ryk opgeneuk
tot in die see se gekreukelde alikreuk

vindingryk is Riemvasmaak vasgemaak, die katstert
is raak mimiek en die aantelerige trassiebos. die
hartbeeshuis
is 'n onderhoudende fout. die kameelperd
is 'n fout en die muishond, die ystervark en volstruis

daar is regte maniere van verspreek
Onseepkans. van Beenbreek

het ons met ons tong en hand
aan alles gevat
van bo tot onder van die geliefde land
tot in die wortel van die witgat

daar is die mooiste taalverhaal
van die malgas en tarentaal
en die klein swart bittersoet nastergal
my land se kadastraal
is gekleim in my taal

ons het die grond met ons speeksel en sweet bewerk

soos die bok en renoster het ons dit gemerk
met ons urine. soos die voël en katdier
hulle leefruim merk met drek en anale klier
so het ons hom met ons taal bewerk

hy ruik na ons skatoon

in die drolpeer en dassiepis bewoon
ons die land

ons sit diep in hom vas
diep en vas soos 'n kiestand

in sy kas

ons hou hom in stand
met sy fontein en woestynsand

ons klim op uit die kloof na die bergkam
en woon tot waar die horison die vlaktes opdam

ons wat deur mond
en voet en hand
met die wind en water en grond
'n verwantskap het en 'n verband
met die planeet deur ons onvervreembare land

in 'n onuitroeibare goddelike taalverbond

ons sit soos klitsgras
aan hom vas

sy kadastraal
is afgesteek in my taal
Vorige onderwerp: " Wat maak Oom Kalie daar " deur HENNIE AUCAMP
Volgende onderwerp: " Weeklag van die sater in die Winkelsentrum " deur FERDI GREYLING
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 25 22:42:08 MGT 2024