Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Grondstowwe by die siklus van seisoene " deur D.J. OPPERMAN
" Grondstowwe by die siklus van seisoene " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #91402] Di, 16 Maart 2004 04:11
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
D.J. Opperman

Grondstowwe by die siklus van seisoene

Geskryf vir die Fynproewersgilde -
eintlik vir Annatjie Melck

I. Herfs
Die Pieke wissel in 'n kwepergloed
wat appels en die laaste druiwe voed;
die wingerde verroes tot rooi pontak
terwyl uit eikebome koperblare sak.
Die bye en jangroentjies steek suikerkanne
en kerse van die populiere brand. Ontspanne
drink jy vonkelwyn en koer: op die dak
lê reeds die rye boerpampoene weggepak.
Nou met brokkolie, blomkool en sampioene
spriet 'n dieper drif en soet uit suurlemoene;
jy smul aan borriepatats en, gesmoor of gerook,
voel jy in jou die eerste snoek wat loop.

II. Winter
Die Pieke skuil in mis of wit kapok
bo lensie-, ertjie-, spek-en-boontjiesop
wat damp teen vensters van wit gewelmure.
Bottels rooiwyn warm aan voor kaggelvure
en in houtbakke volgens die seisoen
staan koejawels opgestapel en soetlemoene.
Ons sal by tye met intiemer tongval praat;
kerriekos eet, varkrib en bruin wildbraad,
souskluitjies met kaneel, gesproete pannekoek.
Wanneer jou kop sy reglê op die kussing soek,
raas die Eersterivier harder en vol,
en in jou word die klippe ronder omgerol.

III. Lente
Die Pieke blaai na ander buie, blou of groen,
maar met alles om jou heen is jy versoen:
die bot van eike en platane, die vleie
geprik met waterblommetjies, beddings met preie,
jong wortels en aspersies - klewerige hars
aan vroeperskes, die nat sekelsnit van gars,
en dampe uit dolvore. Eentonig die geluid,
êrens uit die dennebos, van Piet-my-vrou se fluit.
Jy kerf kolganse, tarentale en konyne;
sing saam aan ou refreine, drink jong wyne
op bobbejaantjies en fluweeltjies . die beskeie
eerste proe aan rooi punte van aarbeie.

IV. Somer
Die Pieke tril van hitte. Die Suidoos
blaasbalk pruime af en vonke appelkoos;
sonbesies gil, rooier word rabarber en radyse;
koljander word gestamp in kopervysels.
Teenoor bure en besoekers gloei 'n welbehae
en deur erfglase skitter die Ster bo dié feesdae
van kalkoene en doekpoeding . koue waatlemoene,
spanspekke, kreef, alikruk en perlemoene.
Kantelbakke poer met boeselpense druiwe
wat parsskroewe in koel kelders nader skuiwe -
die hele wêreld gis, gebreekte dop en mos,
daar is geen ander dorp soos Stellenbosch!
Vorige onderwerp: " Die ronde tafel van die rede " deur I. D. du PLESSIS
Volgende onderwerp: " Ons Toekomstige Volkslied " deur C.P. HOOGENHOUT
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 05:26:42 MGT 2024