Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Vier gedigte uit die Klein Karoo " deur FERDI GREYLING
" Vier gedigte uit die Klein Karoo " deur FERDI GREYLING [boodskap #73246] Vr, 07 Februarie 2003 17:37
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

VIER GEDIGTE UIT DIE KLEIN KAROO
Ferdi Greyling

VOOR DIE VAL

In die Klein Karoo het ek geweet
dat die Swartberge elke oggend
soos kerkorrels uit my drome sal verrys,
dat die bougainvilleas elke dagbreek weer
uit die stof sal opstaan
om in pers vlamme teen die bome te dans.

Daar het ek die wonderwerk van elke dag gesien.
En geglo.
Heel die dag lank
het ons met fietse deur die strate gebid
en hallelujas in die sagte gras gelag.
Met pakkies Lucky Strikes
het ons skelm psalms agter die heinings gerook
en met meisies onskuldig soos Post Toasties
het ons nagmaal in die stil skemer van die bioskoop gehou.

In die ligblou lug,
wyd en glad soos 'n stil rivier,
het die tierende son elke middag laat
in die Klein Karoo
soos 'n oopgesnyde waatlemoen
ondergegaan.
En dan het die soet nag
om ons
soos 'n donker vrug oopgebreek in sterre
en die koel aand het sag soos water
deur die strate van die dorp gespoel,
terwyl die saad van nog 'n heilige dag
op die sypaadjies ontkiem het.

DIE SON SAK WEG

Weg van die growwe groen heuwels
van die Oos-Kaap,
ver na die suidweste
lê die Swartberge.

My hart het op 'n tyd daar gewoon.
Maar dis blote klip en grond, my liefstes,
wat onder die koeëlronde son hoog rys
in die droë Klein Karoo.

Daar verkoop slinkse boere
Waatlemoene om aan die lewe te bly.

HERFS, OUDTSHOORN

ma, die son jaag 'n wind van verder as ver
wat die helder lug bo die berg verbrokkel
bruin aan bome in die lanings vreet
en die appelkoosboom in jou agterplaas
in geel vlamme verbrand

DIE IMPERIALISME VAN DIE TYD

Ek ken die Swartberge
in die land voor die tyd.

Daar het ek die wiskunde suiwer geleer
van die son wat glorieryk om die aarde tol.
Daar kon die geometrie van my geloof
Die hele wereld elegant aan 'n enkele uur anker.

Maar met die ontvangs van oktrooie
duskant die Swartberge,
het die tyd my heerser gemaak.
Ek het koning oor my lewe geword.

Ek vat die dae en die nagte
en ek maak statistieke daarvan.
Die tyd is 'n mensgemaakte tegnologie.
Ek bestudeer die tyd as 'n ko-ordinaat
van die wêreldlyn,
Ek is koning van idees.

Ek weet hoe vulkane
berge uit die aarde gedruk het,
hoe vreemde diere vroeër
in die moerasse van die Klein Karoo
onder die fel son gebulk het.

Ek weet hierdie berge sal weer beweeg
en valleie, vlaktes en mense saam met hulle sleep
en weer in die koue planeet wegsak
wanneer die son rooi en oud word,
voor alles weer soos saad
in die donker kiltes van die hemel verskiet.

Ek is koning van konsepte.
En van hier
waar die kragte van die tyd
glorieryk in balans
om my helder hede hang,
heers ek
oor die verlede
en oor die toekoms.
Vorige onderwerp: " Ou Foto " deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: " Nicoline " deur HANS du Plessis
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 17:31:26 MGT 2024