Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Die ou bokser " deur PETER BLUM
" Die ou bokser " deur PETER BLUM [boodskap #72014] Wo, 15 Januarie 2003 23:13
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Peter Blum
Die ou bokser

Wat word van boksers wanneer hulle oud word?
Geleidelik verdor ook die lourier,
verslap die forse houding, spog en swier,
terwyl die geesdrif van die skare koud word.

In kroeë proe hy soms nog die ou roem,
of as 'n sportliefhebber hom herken
en hom help onthou hoedat hy eens gewen
en weer gewen het. Dít nou sy doem -

om alles heerlìks agter hom te weet:
die vrouens wat glibberig oor hom geraak het,
dawerende applous waarin hy trots geblaak het,
omkrans met kalklig, skreeue, lof en sweet.

Net in gimnasiums het hy nog 'n tuiste
waar die jongeres gretig sy wenke afkyk,
onbekommerd na sy trofeë reik
met ongeskonde koppe en vars vuiste.

En wat bly oor? Herinnerings wat verflou,
'n bankbalans wat krimp, 'n dowwe beker,
'n suwwc brein en swaar gestel, jaarliks weker
- net geel koerantknipsels bly nog getrou.

Verbanne koning, Simson werkgeboë,
droom jy van 'n terugkeer na ou glorie?
Dít gebeur net in die Bybel of historie:
Verniet vonk soms 'n felheid in jou oë.

Gaan lê, ou bul, jóu tyd is nou verstreke,
jou harsings is geskud, jou spiere pap.
Voel jy die jeug se opmars oor jou trap?
Vir hulle hou die noodlot nog sy steke.

Gaan lê, maar waak teen selfbejammering:
ofskoon kortstondig, het jy tog gesmaak
waarna hulle almal dors. Dít was jou taak -
dié plaasvervangende regverdiging

van hulle wat kragteloos na die groot luister
tas - ag, net één keer! - en tog telkens faal,
terugsink -- elke doelwit onbehaal -
en naamloos voortgesleur word in die duister.
Vorige onderwerp: " Omdat jy self " deur N.P. van Wyk LOUW
Volgende onderwerp: " Gebed " deur CHARL DURAND
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 04:46:50 MGT 2024