Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Moederstad " deur D.J. OPPERMAN
" Moederstad " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #70226] So, 08 Desember 2002 16:31
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

D.J. Opperman
Moederstad

Het ek geslaap, oor seë heen geswerf
want vreemd verskyn vanoggend Tafelberg
en Baai, of is dit net omdat ek kind
en vrou ná al die spanning veilig vind?
Die sweefhok klouter langs sy kabel op
nog altyd 'n wit-eier-spinnekop...
Maar in watter streke van die gees
was ek die afgelope maande dan gewees:
die groot woestyn met grys opgrawings
van beeld, pilaar en pot, beskawings
met 'n doolhof na die binneruime
van 'n kelder waar die koning sluimer,
soos 'n dooi kind in die moer, stede
met dinastieë en beskawings in die skede?
Of is dit deur 'n skuldgevoel en vrees
maar alles 'n bedrogspel van die gees?
Tog, nou dat ek dier en ding en plek ná plek
die aarde met my kind moet herontdek
word Hollywood, Moskou, Kaapstad,
almal voorstede van één stad,
en skielik uit my droom verskyn
die grys voorlopers van die groot woestyn,
en in my kamer hoor ek snags beklem
deur alle eeue nog dieselfde stem:
,,Solank die mens aan My geboorte gee
hang nog My Negester oor Ninevé."
Vorige onderwerp: " Nuttige reseppe " deur C.W. JOUBERT
Volgende onderwerp: " Ballade van die grysland " deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 08:46:30 MGT 2024