Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Gebed om leiding " deur M.M. WALTERS
" Gebed om leiding " deur M.M. WALTERS [boodskap #68320] Vr, 08 November 2002 03:30
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

M.M. Walters
Gebed om leiding
Die leser wat hierin 'n aanval lees op enige
spesifieke gemeente begryp die strekking van die gedig nie.

Heer, U weet dat ek gelukkig is hier
in die gemeente Stellenbosch-Sentraal,
want veel seëninge ontvang ek op my werk:
deur my huisbesoek op geselekteerde testamente
is gemeentlike fondse reeds met duisende versterk.

U weet hoe die lidmate vir ons sorg:
die vrieskaste bult buitentoe, oorvol
is ons kelder van die goeie dade -
ons drink rooiwyn wat sewe jaar gerus het
saam met die vet braaivleis van genade.

U weet die kinders moet universiteit toe
en die koshuise is duur en vol en waar
is daar 'n pastorie met sewe huurstudente?
Net op Stellenbosch is so 'n kans vir dié goue gans
toelaatbaar volgens kerklike reglemente.

Ek speel in die eerste tennisspan
en ons wen nou al drie jaar na mekaar.
Maar 'n mens moet kompetisie hê - U weet:
soos Satan elke Sondagmôre
sy invloed teen u roepstem meet.

U kudde val nou die kuns ten prooi
want godslastering word verlig en letterkundig mooi.
Hoe kan ek bly waarsku teen die bose spel
as ek nie sélf, met my komplimentêre kaartjie,
my slagyster in die Thom gaan stel?

(Die klein sondetjies met my buurvrou
het ek alreeds voor U bely - net nou en dan
bedien ons nog die sakramente.
Kan ek haar dan sommer só laat staan,
sonder groetnis sê en komplimente?)

Ag, en die akademiese omgaan en verkeer
met al die professore, hoe kan ek dit ontbeer -
ék wat so graag delf in die duisterhede,
so lank gewag het op 'n kweekskoolstem
in antwoord op my broederse gebede.

Nou kom U met dié beroep
na die sendinggemeente op Merweville ...
vir mý, gereelde voorsitter van die Ring!
Alle grappies op 'n stokkie, Meester,
is U ernstig met die ding?
Vorige onderwerp: " Snoektyd " deur I.D. du PLESSIS
Volgende onderwerp: " Heilige beeste " deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 12:07:02 MGT 2024