Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Die aard van verstaan " deur CHARL- PIERRE NAUDE
" Die aard van verstaan " deur CHARL- PIERRE NAUDE [boodskap #61433] Do, 02 Mei 2002 19:15
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Die aard van verstaan
Charl-Pierre Naude

Daardie week was daar verskeie berigte oor vlieënde
pierings, en auroras uit die onsigbare heelal.
Ek het in my motor gery, verby 'n ongewone kerkritueel,
terwyl reën neersis op die skerwe van 'n skemer.
Die mans het sluiers gedra, buiten vir twee wat inwyding
ondergaan en die klein koortjie verrukte vroue aan die
kant van die pad.
Die sekte was aan my onbekend, 'n vreemde mengsel
van Afrika en van die Weste.
Die gemaskerde mans het die swetende en huilende
nuwelinge driftig aangepor in die rigting van die altaar,
en die nuwe lewe wat op hul wag.
Hulle het soos nat eende gewaggel, blind met begeestering,
vooruit die veld in en biddend op hul knieë neergeval.
Twee skote het weerklink.
Ek het pas 'n motorkaping aanskou, en die summiere
teregstelling.
Hoe moes ek weet, daar is skaars 'n pad wat iewers gaan,
wat nie ook in die teenoorgestelde rigting loop nie.
Miskien het dit te doen met hoe 'n mens waarneem.
Daar is diegene wat glo vlieënde pierings is visioene van
die toekoms of 'n hoogs ontwikkelde beskawing uit die
verre verlede.
Beskou byvoorbeeld die storie van die twee bruide.
Daar is 'n stadige bruid. 'n Enkele gebaar van haar kan
drie geslagte neem.
Haar rok waai nie in die wind nie, dis uitgedruk in metaal.
Soos ek op my bed lê, sien ek hoe bult haar kant in die
staalplafon bo my.
En die vinnige bruid, ter plaatse uit die pakkie, nat voor die
seremonie eindig.
Sy het 'n lang wit sleep en die nederige naam toiletpapier.
Miskien word alles bepaal deur ons siening van tyd.
En as enigiemand meen ek was 'n swak getuie, dink maar
aan besnyding of die offerande van maagde. Die vinnige
hand en die stadige hand, van God.
Ja, ek kon seker meer hulpvaardig gewees het met die
ondersoek.
Ja, ek is bly om nog lewend te wees.
Maar om verby te gery het in 'n tyd van toekomsvisioene,
aan die regte kant van die pad, duskant die morele streep,
was om aan hulle onsigbaar te wees. Ek het eenvoudig
nog nie bestaan nie.
Vorige onderwerp: " Winter " deur N.P. van WYK LOUW
Volgende onderwerp: "Wie Weet (Jopie Adam)" deur KOOS DU PLESSIS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 09:51:15 MGT 2024