Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Oom Brood en die spook van Jakkalsputs ('n Suidwes Visvangstorie)
Oom Brood en die spook van Jakkalsputs [boodskap #120803] Vr, 05 Oktober 2018 19:29
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Sy van was eintlik Roodt, maar ons kamp het hom Oom Brood genoem. Die naam het hy verwerf deur sy eie snaakse uitspraak van sy van. Ons het skaars uit die kar geklim pas na ons by ons kampplek aangekom het of hy kom aangestap na ons toe.

"Hê julle al ves gevang?"

"Is die man dan nou kens" mompel ma binnemonds, "ons het dan nog nie eers kamp opgeslaan nie". Pa groet maar vriendelik en verduidelik dat ons nou eers aangeland het, "asof hy dit nie kon sien nie" mompel ma.

"Roodt is die van" sê hy, maar ons almal hoor Brood.

Later het dit duidelik geword dat oom Brood nog vir baie ergernis gat sorg, veral vir ma. Hy en sy vrou blyk toe nou al baie maande daar te staan en deur daai maande heen honger geraak vir geselskap. En ma is deur hulle uitverkies as om mee te gesels. Ná die derde aand hoor ek ma vir pa sê dat ons beter kamp opslaan en anner plek gat staan, want vir die Brood en sy vrou sien sy nou nie meer kans nie. Want elke dag nog voor ma kan gatdraai loop (Jakkalsputs het toe al longdrops gekry) dan wag antie Brood ma al in. En dan wil die Antie kuier en later as Oom Brood van die waters af terugkom, dan kom kuier hy saam. En dit interveer met Ma se middagslaap, haar boeklees tyd, haar tyd om met die honde te gat stap, kortweg sommer, dit bedons ma se hele "bleddie holiday". Probleem is net, ons staan waar ons staan met 'n rede, en dis om naby aan die storte te wees, en die enigste anner plekke wat nog oor is, is vêr van die storte af.

So bly ons toe maar langs Oom Brood hulle en verduur die ergernis. Maar dit is lastig. Toe Oom Brood die dag uitvind ons eet elke aand skaap boudtjop (vir rooivleis), vark nektjop (vir groente) en aartappelslaai en braaibroodjies (vir stysel), toe beginte hulle elke aand met vuuraansteek aanstap na ons kamp toe. Om nie ongeskik te wil wees nie, bring hy dan elke aand 'n halfgevriesde, slymerige, met die derms in, vis daar aan wat ons dan kwansuis maar kan kry. En uit Ma se goeie geaardheid bied sy dan maar aan dat die Brode maar moet aanbly vir ete, wat beteken dat iemand nie gat vleis of groente kry daai aand nie. Een ding was seker, Ma het 'n goeie geaardheid gehad, maar haar moerigheid was selfs beter, en iets of iemand sou moes plan maak, want ek het gesien voor die vakansie gat oor wees, gat Ma nog die Brode iets aandoen.

Toe kom die oplossing sommer so sonner beplanning.

Daai jare het die Kerk Jeug Aksie (Ma het hulle die Kom Juig Almal genoem) so oor die Desembermaand daar kom staan en dan allerhande programme aangebied. Vir die kleuters in die oggende was daar poppekas, middag was sports gewees met tieners en in die aande is tieners ook gevermaak. Die grootmense het dit natuurlik baie waardeer want dit het so lekker privaatheid gegee; so na storttyd wanneer hulle skoon is en lekker ruik en op vakansie is langs die see waar die son ondergaan en die kinders is nie daar nie. Toe die een aand sou ons saam met die KJA's in 'n beeslorrie ry en gat sing; eers in Henties en dan op Jakkalsputs serenade, Krismis-liedjies. Ek en my maats, Morris en Rens is toe baie bly vir die geleentheid Henties toe. Uit vorige ondervinding weet ons toe al dat daai lorrie heel eerste by Sareltjie se Gat (hotel De Duine) gat stop vir die eerste liedjie. Dan ry hy die hele Henties deur, Suid Duin, Noord Duin sommer oral, en dan sing hulle die laaste liedjie weer by Sareltjie se Gat. So, ons is saam. Spring af by die hotel, kuier al ons sakgeld uit, en dan as daai lorrie sy tweede stop daar maak, klim ons weer op en kry geleentheid kamp toe. En ons hoef niks te verduidelik nie, want Ma weet mos ons is saam met die KJA's. Morris se Ma het baie sakgeld gegee, en ons drie het daai aand baie Tafels gekuier, en 'n O.B.S. vir die koue pad terug. En al daai vloeistof sak af en die nood druk en toe ons daar by Jakkalsputs aankom, was die nood besonder hoog. En ons hol vir die longdrop, en dit was 'n maanlose nag, en dit was al baie laat en ons het swart broeke aangehad (hoog mode gewees daardie jaar) en wit truie wat laag hang (van die dou nat geword). En Morris was die eerste om die longdrop se deur oop te stamp. Daai deure het nie kon sluit nie, want die slotte het afgeroes, dit was sommer sulke swaaideure. En met die oopstamp van die deur gil hy sommer van dronkgeit en verligtgeit. En daar gil iets terug uit daai lewwie. En ons skrik en ons hol, sommer woestyn in. Morris kon dit nie meer maak nie, maar ek en Rens het maar daar in die gobsie duintjies water afgeslaan.

Daardie volgende oggend slaap ons om verskeie redes later as anner oggende, en toe ons wakker word toe sien ons dat die Brode weg is, nie net Henties toe nie, weg. Kamp opgebreek, "lock stock en barrel" soos ma dit gestel het. Pa vertel toe so op pad waters toe dat Oom Brood net kom sê het dat hy nie meer hier kan kamp nie, want hy was blykbaar baie bang vir spoke, "en nie net een nie, buurman,... drie van hulle bestorm my terwyl ek op die troon sit." Daai lewwie was een groot gemors gewees. Oom Brood het pad gevat. En ma het vir ons 'n ekstra sakgeldjie gegee, "vir wanner die lorrie weer Henties toe ry, want ma is trots op julle".

Die res van die vakansie was sonner voorval gewees.

-- Leon Langhare
Vorige onderwerp: vertaling - translation
Volgende onderwerp: Ouderdom
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 15:25:36 MGT 2024