Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Ballade van die grysland " deur D.J. OPPERMAN
" Ballade van die grysland " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #78306] Di, 27 Mei 2003 03:33
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

D.J. Opperman
Ballade van die grysland

Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
TOTIUS (Trekkerswee)

I

Uit tonnels van die nag tuur
ek oor rook en mis as ysterspore
my in kringe van die stad instuur.

Teen dakke en skoorstene blink
die son, soos in 'n leeggeloopte dam
op bottelskerwe en geroeste sink.

Eers in slote langs die straat,
met blou koffiekan en pik
het ek verbygangers beny, gehaat.

Toe het ons tot 'n staaldriehoek
die leë olievate opgestapel -
bye aan 'n nat bruin heuningkoek.

En haar hande, soos oor 'n klavier,
gryp en vou en gryp en vou
stukke sjokola in blinkpapier.

Draaisae gil en in my ore
klink die geklets van beitels,
die geneul van swart motore.

Uiteindelik valse syfers neergekrap,
kon ek uit vet van viskafees
na 'n paradys ontsnap.

II

Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
het ek met haar gevlug; maar by my was
die vrees - die rekenmeester kom.

Bo na sterre, soos die grootwiel,
van sterre na die aarde,
duisel elke vrou my siel.

Bioskoop en dans, draak en die fisant
dra ons op die mallemeul
nagliks na 'n Feëland.

'n Pennieslotmasjien se kake
spoeg 'n kaartjie na my uit:
"Wees veral versigtig met geldsake."

O die vrees! as die rekenmeester kom
hoe sal ek kan verantwoord
en verslag gee van sy eiendom?

Die dag breek grou: ,op tafelblad'
links in my smalle kamer
,staan leë bottels in hul nat'.

O week na week gebonde
'n haas aan die ovale kring
en agter my ses honde.

III

Die hospitaal is wit-gevlak en koel
as die glaspypie water uit my tap...
tot ek die vrees weer voel.

Smiddags groei 'n oog uit elke kwas
en in die nanag gryp 'n vlermuis
my dae soos 'n tros lukwarte vas.

'n Knop het in my keel gekom
die oggend toe die peerboom
in die steenkoolerf wit blom.

O as die rekenmeester kom!
wat sal ek van sy wêreld
nog kan wys aan hom?

Deur tralies wat die tuin omsluit
kyk ek en my verwarde broers
verlangend na die stad nog uit:

hoe deur die reën en laaste lig,
krukkig soos nat voëls
loop elke jas met sy gesig.

Blinkpapier, mallemeul en wiel,
'n laphaas en ses honde
óm en óm... die dun spil van die siel.
Vorige onderwerp: " Ternietprinses " deur WILHELM KNOBEL
Volgende onderwerp: " Paddas " deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 12:41:58 MGT 2024