Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Beeld van 'n Jeug : Duif en Perd " deur N.P. van Wyk LOUW
" Beeld van 'n Jeug : Duif en Perd " deur N.P. van Wyk LOUW [boodskap #74502] Vr, 14 Maart 2003 02:19
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

N.P. van Wyk Louw
Beeld van 'n Jeug: Duif en Perd

Ons agterplaas die flikker van die son
en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;
waar agter in die donker die swart hings
ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif.

Die helderte is oor my boek en in
my oë; die gruis is warm aan my skeen;
my duiwetrop lê wit en bruin en blou
soos lappies warm wasgoed om my heen:

party al lang-vlerk en lou teen die son;
die ander pik mekaar nog by die bad -
brom, slaan met die vlerk, word uitgedruk,
gly skuins van lekker en laat die water spat.

Een kriewel aan my tone; en ek lees:
die bruin Romeinse legioene draf
uit Rome uit, ál met 'n wit pad langs
- soos Gunsfontein toe - loop die bergklowe af

en word by die onvindbare Trasimene
in 'n koel môremis deur die Swart Heer
wat eindeloos geduldig is en wys,
ingewag, uitoorlê, vasgekeer,

en toe, soos nooit g'n leër nie, gewan ...
Sulla met sy blou en hopelose oë;
Pompeius, die dwaas; Crassus die ryke;
dan Julius vol van die mededoë

van 'n versadigde, verstandige mens ...
toe fletter alles op, wit, bont en rooi -
by die kombuisdeur is die môrewater
en die afskraapsels weer uitgegooi -

fletter 'n oomblik op, skouerhoog,
warrel vol vlerke, 'n wind in die agterplaas,
en saai weer grond toe soos 'n gaffel
vet koring oop val op die vloer en ruis

in die randkorrels wat rol. My duiwe stap
al weer verras bak toe, vlerk op die rug,
en kry geleidelik en verontwaardig
die voormiddag se pik-pik-lê terug.

Die rooie pronk nou op die stal se nok:
Slabbert, die ou vette, by sy wit maat,
Breggie; 'n klein kaartman wat heen en weer
bo teen die blou dringend sy buigings maak.

My boek het toegeraak. 'n Ander land
van gister se lees en dae s'n, gaan oop:
Cortes wat oor 'n lang lae brug
- byna 'n drif, glo - met sy ry manne loop

na 'n dryfstad op eilande, binne 'n meer,
en dinge van die bruin Asteke-ryk
oor wonder; heidens en hoflik Montekezoema
se stil droefheid; die blind-veg op die dyk ...

agter die draad word in die hoenderkamp
dreinerig en lui ge-kê-kê-lê en krap,
en skielik, oor ons dorp uit, klap en kraai
die goue haan wat al sy henne trap.

Slabbert dans op die stal. Hoog teen 'n blou
blink lug staan die piramide op
van Tezkatlipoka, die Rook-Spieël,
en bo die blink fluite word daar op die top

uit 'n jong man wat lewendig lê, die hart
met 'n klipmes van lapis lazuli
- 'lazuursteen' - blootgemaak en uitgeruk
en aan die skittering en die god gebie.

Die seun - hy moes die mooiste wees, en moes
'n jaarlank jongbul vir die verse speel
om daardie heilige dood en hemelvaart
tussen die ou aarde-gode uit te steel

en dan so bloedig deel aan die son te kry.
Die duif dans dringender bo op die dak
en sleep sy stert tot aan sy hakkies krom,
en brom en brom sy klein wit wyfie mak

wat effens net versit. My vingers teken
Romeinse swaard en Astek-pyl en Kruis
in ligte strepe. Dan vee my hand
dit ligweg uit die warm gruis

en weier om te kies. Uiteindelik
gee Slabbert bek, herhaaldelik en lank -
soos wat 'n winkelier 'n ryk boer groet;
wip op, en fletter roos en blink en blank

'n oomblik met puntvlerke teen die lug;
dan trap hulle elkeen kort die klaarmaak-loop
soos 'n danser se wegbuig, en skiet met geklapper
die bo-lug-wind in met die vlerke oop,

soos mikke, styf boontoe; skiet oor die huis -
en hoog sien 'k hulle oor die toring pyl
van ons kerk en een groot sirkel trek
rondom die dorp, die rante-kom, en seil

teen die donderwolke in wat ver-weg lê
en middag maak. Napeinsend oor die mes
van blou lasuur, oor Cortes en sy Kruis,
wat daardie ryk van son so dodelik gekwes

het en verdryf het van die aarde, en donker
mense, verlaat, gelaat het daar,
sonder die heidense, groot, geruste sterwe -
toe het my hart 'n nuwe klop gewaar

en 'n gedagte het my jong dink gewond
tot swymens toe; in daardie agterplaas
van son en son-blink duiwe, het blinker,
skil-dun, afsonderend - 'n groot blaas

uit 'n seeppyp, vol beelde wat áfdrywe -
die pril dink rondom my lyf gesluit;
Abel se sterwe by 'n hopie klip,
waar die eerste bloed en offerande uit

uit die sonlig reik; Abraham met sy mes
en met sy seun teen 'n vaal rant
van ysterklippe -'n ou man wat verskrik is
en opsygestoot, en die oë van die ram;

dan op 'n laaste klipkop buite die stad
drie kruise oor 'n land wat donker raak,
en, eindelik, 'n vrye sterwe - en die vermoede:
dalk het dit daardie son kon donker maak

sonder verduistering agter 'n maan van klip:
omdat die aarde en elke aardgebeurtenis
en die son self, en tot die verste ster,
tesame net een groot vertelsel is

oor Hom en ons, en deur Hom self vertel -
vol beeld, prefigurasie, voorbereiding
op een voleindigende slot -
en, dat in elke eeu die-laaste ding

verwysing na Hom was, deel van sy Naam ...
Ons agterplaas se gruis dit glinster blou,
my vingers trek 'n driehoek om 'n kring
en streel dit uit en aarsel om te hou.

Bêrend, die jong, kom die hings uithaal;
draai die kraan wyd, tap eers die balie vol,
dat dit skuim van die water, stap deur die duiwe
wat wip uit sy pad uit; dan laat hy val

die staldeur se dik grendelblok uit die mikke.
Dit runnik daarbinne, sag, en die pote
stommel en glip op die ronde stalklippe;
dan beur hy die deur uit, die swart grote,

sy kop skuins van die halter, die oog
wit gedop van die rem, daaróór hang die maanhaar;
en die neusgate voel, voel reeds aan die lug,
spuls en wyd; sy voorbors die staan

skeef die deur vol, gebult soos 'n kneukel.
Maar Bêrend lei die dier uit in die son; haak,
om die halter korter te vat; laat trap hom
oor die balk met dun bene versigtig. Dan begin haal

die hings uit, weeldrig van koringvreet:
hy ruk sy nek op en trap agteruit
weg van die halter; hy ruk die jong saam
en skop die kombuishout rond in die gruis.

My duiwe vlieg op soos water wat spat
met 'n klip in die put, en vlug oor die dakke.
'Ho! Ho!' Maar dan steier die hings; sy pote
graaf wind en die kruis trek nog platter

en hy ruk die jong hierkant, tot dié laat los.
'Aaits jy vreet pitvoer!' Dan hóórt die agterplaas
aan die swart hings; hy dreun die heining langs,
speel na die hek toe, lig sy nek hoog en blaas

na die plaaspad se kant en die rante toe.
Maar Bêrend ken sy werk en ken sy perd.
Ek help dit vaskeer. Die halter word gegryp.
Dan kóm die hings krom-nek en hoë-stert

pronk-pronk na die waterbalie toe,
drink dorstig met sy riem vas om die paal;
blaas rimpeltjies; tel sy kop skielik op,
en laat die druppels deur die sonlig straal

op die groot hoewe. Die jong is haastig vir tuin toe.
Die hings word kort aan sy bek gevat;
en, magtig, gebonde, beheers en mooi,
die stal ingelei; en die grendelhout val vas.
Vorige onderwerp: " Ontvlugting " deur INGRID JONKER
Volgende onderwerp: " Klei(n)wild " deur HANS DU PLESSIS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 23 10:50:16 MGT 2024