Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Oktober " deur W.E.G. LOUW
" Oktober " deur W.E.G. LOUW [boodskap #69051] Di, 19 November 2002 22:26
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

W.E.G. Louw
Oktober
Vir M.A.B

Die hele, lange dag het hier die wind gewaai,
die duine oor tot waar die swarte see nou skuim;
en oor die polder staan, verlate-ver, die maan;
die hemel is leeggewaai; in yle mis
bly daar geen sterre oor; maar net dié droewe glans:
die bleek-verlate duine en die vywers, waar
die silwer-grys pluime van die riet verwaai...
Maar in die Boland is dit nou Oktobermaand!

Die aarde dáár is stil en koel, en oor die vlei -
o onuitspreeklik teer, verlange van my hart! -
geur nou die aandblomme en vou langsaam hul blare oop.
Die hange van die berg is soet met jonge gras;
ek sien bo deur die bloue dennebos hoe breek
die helder brander van die eikegroen en slaan
bo teen die hoogste krans vas; en in die aand,
hoe roep die reënvoël daar: 'n ligte pêrelsnoer,
'n sprankelend yle vlam, 'n silwer ketting deur
die koele skemering... En teen die oostewind
stuif uit die hoë, goue kruin die denneboom!
O ek moet t'rug: ek kan my hart nie meer bedwing,
ek kan die liefde - lank bedrieg en wysgemaak -
van ál die dinge nie ontbeer... Hier waai die wind,
en deur die wind, die blare en die eerste reën.
Vorige onderwerp: " Laatmiddag in die Klein Karoo " deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: " Verlate" deur A.D. KEET
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 00:07:52 MGT 2024