Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "snags lê die wit buurt donker in sy ligte" deur FANIE OLIVIER
"snags lê die wit buurt donker in sy ligte" deur FANIE OLIVIER [boodskap #68151] So, 03 November 2002 02:20
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Fanie Olivier
snags lê die wit buurt donker in sy ligte

snags lê die wit buurt donker in sy ligte
agter vibracrete, siersteen, gepleisterde hoë mure
met plaatjies wat blaf lampe wat tande wys
op al die hoeke van die huis: als nagmerries
waar daar eens drome was, vrees voor die vergesigte.
rooi oog glim by die deure draadjies trek
die vensters styf. interkom verbind die bure.

bedags vol bravade met die bmw
die manne by die klub die tikster wat so lekker flerrie
terwyl die ander werkers maathou op hul plek.
tennis om nege melktert en tee
daar's selfs nog kans vir naweekritjies - liefs net op teer

maar as die skemer toesak sluit die laer dig
is elke uil op sy kluit haan op sy mishoop
bobbejaan op sy krans hond op sy mat;
speel die video. dan neem die nag nog eens sy loop
met veraf tromme van die vasteland
wat in die kop bly klop ruk aan die hart
terwyl die swart buurt helderder met vryheid brand.
Vorige onderwerp: "Ek is oek important" deur PETER SNYDERS
Volgende onderwerp: Gedig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 01:37:03 MGT 2024