Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Wat het die Karre eintlik gevloek?" deur FERDI GREYLING
" Wat het die Karre eintlik gevloek?" deur FERDI GREYLING [boodskap #4482] So, 26 Maart 2006 15:00 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Wat het die Karre eintlik gevloek?
Hulle volg dalk in die tradisie van Nietzsche
Ferdi Greyling

Baie mense was die afgelope tyd in verskeie grade van ontsteltenis
vasgevang nadat 'n lid van die Afrikaanse punkrockers Fokofpolisiekar
aangehaal is dat hy God gevloek het.
Alles het 'n konteks - en dinge wat die samelewing skok wanneer dit by
godsdiens kom, het baie beslis 'n konteks.
Mense is verweef in godsdiens. Dit is - seker meer as wat baie mense
wil weet - in groot mate die konstruksie waarmee hulle die werklikheid
om hulle en wat met hulle gebeur (of nie gebeur nie), interpreteer.
Die Afrikaanse digter N.P. Van Wyk Louw het by geleentheid geskryf 'n
volk moet nie bekommerd word as die jong mense dinge bevraagteken nie,
hy moet eerder bekommerd word as die jong geslag nié dinge
bevraagteken nie.
Dit is 'n amper evolusionêre uitspraak. Ons leer dinge wanneer ons dit
self ervaar. Ons is niks as ons nie ons eie gedagtes het nie, as ons
nie self besluit wat ons dink nie en daar is nie juis enige nuwe
gedagtes nie. Elke geslag herhaal maar die gedagtes wat reeds bestaan -
spesiaal verpak in konsepte en ontledings wat hom pas. Só word dit
nuut.
Sonder dít is ons nie veel nie. Elke geslag moet sy eie ontledings
doen, sy eie waarhede en insigte vind. Daarom was so baie van my geslag
se Afrikaners tot die dood toe verveeld met volksfeeste op 16 Desember.
Daarom is daar nou 'n jong geslag swart Suid-Afrikaners wat hul oë rol
as hul ouers van die "struggle" begin praat.
Elke jong geslag breek die oue(r)s se wysheid af en bou dit weer op met
die stukke wat op die grond lê. Die stukke is grotendeels tydloos. Dit
was gebou word, is elke keer 'n nuwe konstruksie.
Om terug te kom na Fokofpolisiekar toe - dit lyk vir my of hulle
hulself ten minste tot 'n mate met só iets besig gehou het.
Die uitspraak was wild en was waarskynlik sonder twyfel bedoel om te
skok waar dit seermaak (hulle is op die ou end 'n punkrock-groep -en 'n
goeie een), maar mense vir wie dit kwaad gemaak het, kan gerus na die
konteks kyk.
Vir my is dit noodsaaklik om te vra wat word bedoel met die term (in
taal) "God". Daar is natuurlik die werklike betekenis - die wese wat
hemel en aarde om ons geskep het. Wat presies die aard daarvan is, hou
filosowe en teoloë nou al eeue besig. Dit kan bitter kompleks word.
Daar is ook die vals betekenis. Dit is wanneer "god" eenvoudig die
samelewing se middelklaswaardes verteenwoordig.
Enigeen wat eens jonk was, ken dit.
'n Mens word met vrese grootgemaak omdat dit die beste manier is om
kinders te beheer wat van beter behoort te weet, maar dit nog nie wil
doen nie.
Iewers tussen 'n jubeling oor die bestaan en die noodsaaklikheid om
jong tieners te kry om te doen wat hul ouers sê hulle moet doen, sluip
'n tyd se middelklas-etos die begrip "god" binne en begin dit soms
bepalend word.
Dan raak "god" die een of ander baie groot en sterk denkbeeldige mens
wat soos jou oom of pa of ma lyk. Hy of sy leef iewers in die lug en
kan álles sien wat jy doen. En hy gaan jou straf as jy bier drink, jou
meisie soen of nie jou huiswerk doen nie.
Miskien is dit dié "god" wat die lid van Fokofpolisiekar gevloek het?
Net hy sal weet hoe ver en verfynd sy godsbegrip deurdink en
geformuleer is. Maar as hy die omie agter die wolke gevloek het wat
kinders dophou om te kyk of hulle huiswerk doen (en as sulks maar met
'n mitologiese vergestalting van ouerlike gesag word), dan is wat hy
gedoen het, nader aan Van Wyk Louw se opstandige geslag as wat baie
mense seker sal wil weet.
En miskien nader aan onskuld ook?
Hy sal natuurlik nie die eerste een wees wat dit doen nie. Hoeveel
mense van oor 50 kan nog onthou dat hulle soms gesukkel het om iewers
in 'n kerk te onderskei tussen die mitiese vergestalting van ouerlike
gesag uit hul kindertyd en 'n werklike poging om iets van 'n
skeppingswese te begryp en te ervaar?
Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche was seker een van die eerstes
in die moderne Westerse denke wat dit met groot vertoon en in
akademies-filosofiese en literêre konteks gedoen het toe hy sy
beroemde stuk "God is dood" geskryf het. Volgens interpreteerders het
hy gesê ons het die god wat die Europese moraliteit van die dag se
vergestalting was, doodgemaak. Nou kan ons nie meer deur die dag gaan
met die gemaklike kierie van slagspreuk-moraliteit nie. Ons moet nou
meer word as die mense voor ons, ons moet morele wesens word wat self
dink.
Dalk kan iemand by die Polisiekarre uitvind watter god dit was wat
hulle gevloek het?
Re: " Wat het die Karre eintlik gevloek?" deur FERDI GREYLING [boodskap #4485 is 'n antwoord op boodskap #4482] So, 26 Maart 2006 15:30 Na vorige boodskap
Jonas  is tans af-lyn  Jonas
Boodskappe: 1070
Geregistreer: September 2001
Karma: 0
Senior Lid
Wat is 'n "non-event" in Afrikaans?
Vorige onderwerp: Vir Jonas
Volgende onderwerp: " Sondag van 'n Kind" deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 06:13:52 MGT 2024