Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » die skeidingsmuur
die skeidingsmuur [boodskap #140045] Do, 18 Augustus 2022 15:42
Louis Basson  is tans af-lyn  Louis Basson
Boodskappe: 200
Geregistreer: Junie 2022
Karma: 4
Senior Lid
terwyl ek hier neffens die bruisende bergstroom sit
en luister na die pragtige melodie van die yskoue lewensvog
waar dit oor mosbedekte klip en houtstomp dans
kyk ek op na die blaarbedekte hemel
wat deur kragtige stamme in plek gehou word
soos hulle oormekaar slang
en hoor ek die suiwer klanke van gevleulde sang

vanuit die klam vloer van verrottende tak en blaar
kielie die sagte geur van plantontbinding
die gange van my neus
en word ek weggedra na presies dieselfde plek
in ‘n vreemde wêreld van baie lank gelee
ek ruik die diere wat eens hier kom suip en ontspan het
en hoor die pragtige klanke van die san se taal

ek staan verstom van verwondering
aan die boomreuse wat my hier omsingel
en besef dan dat hulle eintlik die verbinding is
tussen my sintetiese wêreld van vandag
en die vergete ryk wêreld van die san
omdat hulle juis hier geplant is
om die geel mense en die wit mense te skei
Vorige onderwerp: ongetiteld
Volgende onderwerp: 14 jaar van demokrasie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 12:01:59 MGT 2024