Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Afrikaanse toneel
Afrikaanse toneel [boodskap #124818] So, 17 Februarie 2019 07:25
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die begaafde Kaapse Fransman Charles Etienne Boniface was die eerste toneelman wat die Kaapse toneel, indertyd nog Nederlandstalig, ook ’n S.A. kleur begin gee het. In sy spotstuk De Temperantisten of De Nieuwe Ridderorde laat hy in 1832 ’n aantal Khoikhoi-karakters (destyds Hottentotte genoem) reeds Afrikaans praat. In die gesonge gespeelde stukkie Kaatjie Kekkelbek or Life Among the Hottentots wat ongeveer 1835-1842 groot applous op Grahamstad uitlok, kom daar eweneens Afrikaans voor. Al twee is ruwe spotstukke gemik teen dr. John Philip en sy partygenote en die karakters is sy half bekeerde bekeerlinge en ’n half geleerde oud-leerling van Hottentotse oorsprong!

Ons weet nog van twee Afrikaanse opvoerings wat om en by 1864 in ’n woonhuis in die Paarl en kort daarna in ’n hotel op Montagu (met planke oor halfame as verhoog) plaasgevind het. Belangrik daarby is dat D.F. du Toit, die latere Oom Lokomotief van die taalstryd, daarin gespeel het. Kort daarop kom die belangrike dr. Arnoldus Pannevis in S.A. aan en begin pleit vir Afrikaans as skryftaal, veral as Bybeltaal. Benewens sy leerlinge wat hy daarvan oortuig het, was dit ’n belangrike gebeurtenis vir alle ontwikkelinge i.v.m. Afrikaans.

In die jare negentig van die 19de eeu begin die Afrikaanse opvoerings talryker word. Dit was hoofsaaklik klein stukkies en brokkies deur die Jonge Janni (J.H.H. de Waal) in Kaapstad ongeveer 1893, opgevoer deur leerlinge van die Hugenote-Gedenkskool in die Paarl, onder wie A.V. (A.G. Visser), Jaduto (Totius) en G. du Toit (G.P. du Toit, neef van S.J. du Toit). Die belangrikste opvoerings was seker dié van ’n klug, Di Bedriegers, deur D.P. du Toit, ook leerling en neef van ds. S.J. du Toit, op Somerset-Oos in 1893, en van ’n ernstige stuk oor die Groot Trek, Magrita Prinslo, deur ds. S.J. du Toit, leier van die Eerste Afrikaanse Beweging, in die Paarl. Dit het tydens ’n taalkongres in 1897 in die Paarlse stadsaal plaasgevind. Een belangrike invloed, sommige meen die belangrikste, van die vorige moet nog genoem word, naamlik die werkies van Melt Brink wat 1904-25 veral duisende kere opgevoer is.

Die invloede van die vorige eeu het veral deur gedrukte toneelstukke ingewerk toe doelbewuste Afrikaanse opvoerings in die 20ste eeu begin. J.H.H. de Waal se toneelstukke, wat gretig opgevoer is, meestal uit sy hoofsaaklik Nederlandse tydskrif De Goede Hoop in Kaapstad. Op Graaff-Reinet begin P.H.C. Pohl met sy opvoerings wat op die hele Oos-Kaapland en, deur sy kinders, oor die hele Suid-Afrika invloed sou hê. C.J. Langenhoven skryf sy eerste baie gewilde klugte Die Familie Zaak en Die Water Zaak op Oudtshoorn waar dit gedruk en uitgegee word. In Bloemfontein doen dr. A. Francken belangrike werk.

Maar die belangrikste toneelman was in die beginjare Gustav Preller. Vir hom was die Melt Brink-gehalte van die toneel te laag, "kalaharidor van enige verheffende invloed". Op ’n hoër vlak wou hy vermaak, lering en kuns aan sy verslane volk bring. Hy het die Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging (A.H.T.V.) gestig wat op 9 Maart 1907 in die Operagebou in Pretoria vir sy eerste opvoering ’n oorspronklike stuk, Ou Da'iel, deur Harm Oost, wat self gespeel het, aangebied het. Preller se A.H.T.V. het ooswaarts (Ermelo en Standerton) en weswaarts (Potchefstroom) en suidwaarts (Heidelberg en selfs Colesberg) opgevoer, en oral waar hy gekom het, is toneelverenigings gestig. Daarby was sy toneelbeskouinge in De Volksstem waarvan hy assistent-redakteur was, van die grootste betekenis. Preller was in Pretoria nooit sonder goeie toneelopvolgers nie. In 1912 tot 1918 neem een van sy spelers, Stephanus Maré, die leiding oor; daarna (1918-1923) Danie Smal en enigermate Stephanie Faure verder. Langenhoven word in 1912 na sy "ontwaking" vir die verdienstes van Afrikaans in sy omgewing persoonlik ’n groot toneelkrag en deur sy besonder gewilde stukke vir die hele Afrikaanse taalgebied.

Naas Ou Da'iel was die belangrikste opvoerings tot 1925 seker: Suzanne Reiniersz o.l.v. die skrywer, A. Francken, in Bloemfontein; dieselfde stuk o.l.v. P.H.C. Pohl en dr. S.F.N. Gie in 1917 op Graaff-Reinet; groot opvoerings van Die Hoop van Suid-Afrika in 1918 op Oudtshoorn o.l.v. skrywer Langenhoven wat ook die rol van Piet Retief vertolk het; ’n verwerking van Magrita Prinslo in 1919 op De Aar met leier en medespeler Hendrik Hanekom. Opvoerings van hoë gehalte is ook gehou in Kaapstad (Lenie van H.A. Fagan), Bloemfontein waar D.F. Malherbe aan die werk was, Stellenbosch o.l.v. prof. Con de Villiers en Pretoria (Lenie o.l.v. Stephanie Faure).

In 1925 kom daar ’n groot verandering in die Afrikaanse toneellewe toe Paul de Groot, een van die mees ervare en bes opgeleide toneelmanne van Nederland, in S.A. aankom. Hy wend verskeie pogings aan om ’n beroepsgeselskap aan die gang te kry, maar slaag eers nie daarin nie, hoewel sy opvoerings in Kaapstad en Pretoria saam met liefhebbers groot lof inoes.

Hendrik Hanekom, indertyd stadsklerk van Lydenburg en toe reeds ’n ervare amateurspeler, slaag wel daarin om ’n Afrikaanse beroepsgeselskap saam te stel. Met dié groep, Die Afrikaanse Toneelspelers, begin hy in September 1925 van plek tot plek reis om opvoerings te hou van ’n stuk wat hy self aanmekaar gesit het, Oom Gawerjal se Dogters en die Stemregkoors. ’n Afrikaanse beroepstoneel het begin. Onder die naam van Paul de Groot wat in 1926 Hanekom se spelleier geword het, gaan ’n sterk geselskap, met o.a. Mathilda Hanekom, Wena Naudé en André Huguenet op reis met Huistoe. Meer reise volg, en mettertyd vermenigvuldig die geselskappe ook deur opsplitsing en deur nuwe aankomelinge uit Nederland en Vlaandere. Die Hanekoms en Paul de Groot het eers hul eie geselskap. Daarna slaan Wena Naudé eie wieke uit en kom James Norval met ’n geselskap. Wena Naudé se oud-spelers Anton Ackermann en Pikkie Uys gaan reis. Plaat-Stultjes kom uit België en begin reis; hoofspeelster Elsa Fouché gaan ná sy dood voort met 'n eie geselskap. Nog besoekers uit Vlaandere, Louis de Vriendt en Mignon Sorel, begin met ’n reis met tussenpose tot aan hul dood. Anton Verheyen, nog ’n ervare speler uit Nederland uit dieselfde geselskap as De Groot, begin ook reis. André Huguenet begin van 1933 met goed versorgde opvoerings met ’n eie geselskap. Henri van Wyk begin met grappige stukke. Uit Huguenet se geselskap behaal Pierre de Wet (en ook Johan Fourie) welslae met ’n eie groep wat later saam met Volksteater-spelers ’n hoë gehalte bereik.

Onder die verwarring met al die geselskappe het die gehalte ook gely. Dit kon nie anders nie - daar was eers tien, later 25! Daar kom verset. Verenigings met ’n hoë kunsopset word gestig: in Kaapstad die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging wat ’n pragtige begin maak met oorspronklike toneelstukke (1934); in Pretoria "Ons Eie Teatertjie"-groep wat ’n jaar later die naam Volksteater aanneem en van die beste werk op die Afrikaanse toneel lewer (1935). By die Volksteater speel veral Anna Neethling-Pohl ’n belangrike rol. Ook hierdie verenigings wat die kunstoneel nastrewe, kan nie behoorlik voeling met mekaar bewerkstellig nie, hoewel hulle stukke uitruil en ’n enkele beroepspeler soms by Volksteater optree.

In 1938 stig P.P.B. Breytenbach in Krugersdorp die Federasie van Amateurtoneelvereniginge van Suidelike Afrika (F.A.T.S.A.) wat ook die Engelse toneelgroep insluit en tot ná 1945 hoofsaaklik Engels bly. Daarna neem Afrikaanse verenigings met goeie gevolg aan die landwye wedstryde deel en bereik ’n hoë artistieke peil. In 1952 was daar selfs 114 Engelse en Afrikaanse verenigings in F.A.T.S.A. saamgesnoer.

Na vroeëre mislukte pogings word in 1947 op inisiatief van Breytenbach besluit tot ’n Nasionale Toneelorganisasie (N.T.O.) wat albei die taalgroepe moet bedien. Vroeg die jaar daarop begin N.T.O. met Afrikaanse en Engelse stukke toer, hoewel geeneen oorspronklik nie. Met die opname van die toneelleiers en -spelers van die ou reisende groepe word die N.T.O. daarmee ook die belangrikste Afrikaanse beroepstoneelinstelling en ander groepies (soos Norval en Johan Fourie) reis net af en toe.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Afrikaanse Taalvereniging
Volgende onderwerp: Afrikaner
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 06:06:18 MGT 2024