Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aeschylus
Aeschylus [boodskap #124802] Sa, 16 Februarie 2019 09:03
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Aeschylus (Grieks: Aischulos, 525 - 456 v.C.) was 'n Griekse toneeldigter, gebore Eleusis, Attika; teen die Perse geveg by Marathon en Salamis; oorlede Gela, Sisilië.

Die Agamemnon is Aeschylus se mees verhewe toneelstuk en een van die voortreflikste van alle tye. Saam met die Choephoroi en die Eumenides vorm dit ’n trilogie wat die Oresteia genoem word. Koning Agamemnon het sy dogter Iphigenia geoffer om ’n gunstige wind vir die Griekse leër en vloot te verkry, en bring nou saam met hom van Troje Cassandra, ’n Trojaanse prinses, as slavin. Agamemnon se vrou Clytaemnestra vermoor Agamemnon en Cassandra. Agamemnon se seun Orestes moet nou sy vader se moord wreek deur Clytaemnestra, sy eie moeder, om die lewe te bring. Daarna word hy deur die Furieë of Wraakgodinne agtervolg, en hulle kla hom in Athene aan weens moord. Die regters se stemme is gelykop verdeeld; maar Athena, godin van Athene, wat die voorsitterstoel beklee, gee haar beslissende stem vir Orestes, en hy word vrygespreek. Hierdie mite is ook gebruik vir toneelspele deur Sophocles, Euripides en ook deur die moderne Amerikaanse dramaturg Eugene O’Neill. Aeschylus het 70 toneelstukke geskrywe, maar vandag bestaan nog net die Oresteia en vier ander (Die Smekelinge, Die Perse, Die Sewe teen Thebe, Die Gekluisterde Prometheus).

Aeschylus word die vader van die Griekse tragedie genoem, want dit was hy wat dit van ’n godsdienstige skouspel vol ritueel en plegtige musiek ontwikkel het tot drama soos ons die woord verstaan. Sy spele is die eerste wat ’n poging aanwend om mense se karakter ook maar enigsins uit te beeld, maar die mense is tog nog van minder belang as die gode en godinne. Aeschylus se toneelspele is met hulle diep godsdienstige gees van die verhewenstes in die wêreld. Al is hulle 2,500 jr. gelede geskrywe, word hulle nog dikwels opgevoer, gewoonlik in vertalings, maar soms ook in die oorspronklike Grieks.

Die verhaal dat Aeschylus gedood is deur ’n arend (wat ’n skilpad op sy kaal kop laat val het omdat hy dit vir ’n groot wit klip aangesien het) is waarskynlik onwaar.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Aeolus
Volgende onderwerp: Aesculapius
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 21:38:00 MGT 2024