Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Die Valies en die mosselwyser ('n Suidwes Visvangstorie)
Die Valies en die mosselwyser [boodskap #120845] Sa, 27 Oktober 2018 09:30
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Pa het nie sommer kwaad geword nie. Nou meen ek soos om te gat loop en 'n anner man se lyn afsny, oorlat hy oor pa se lyn gegooi het en nou wil reken die vis wat uitgekom het is syne. En pa was nie groot nie, ôk nie 'n fieta nie, ma reken net fietas baklei, maar daai dag het hy kans gesien vir 'n groot kalant. Gelukkig kon ons die lyne losgemaak kry en kon pa darem bewys dis sy vis daai.

Dit was weer een van daardie dae, die kabeljou het geloop. Maar dit was 'n annerster loop daai dag. Ons het noord gegaan tot annerkant myl 92. En ons was gereed om enige tipe vis te vang. Daar was tjokka, witmossel, pilchards, lagoonwurms wat pa by 'n maat gekry het, selfs 'n klomp swartmossels en dit ôk maar net oorlat pa die vorige dag 'n galjoen met een gevang het. Heel alleen staan ons daar, geen ander hengelaars in sig nie. Die see is mooi skoon en rustig, virgin water noem ma dit. En soos dit enige hengelaar groep betaam begin elkeen van ons met 'n anner aas aan die hoek. Ek deps die witmossel, Morris vat tjokka, Rens pilchards, Ma lagoonwurms, en Pa... natuurlik 'n swartmossel. En ek kry sommer vinnig byt en vang hom, 'n mooi groot kaaljou. Toe ek die tweede een vang en niemand anners kry eers byt nie, word daar ingekatrol en almal probeer witmossel, en dit werk, want toe vang almal een, en daarna weer. Dis 'n blessitse kieskeurige klomp visse die sê ma en ons vang fluks. Maar gou raak die witmossel op. Gelukkig was die uwe 'n kampioen met mossels grawe, wens eintlik eerder dat hy 'n kampioen met die meisies kon wees soos boet Jan, en ek gaat grawe nog uit.

Nou, om 'n mossel te grawe is daar 'n paar maniere wat jy kan gebruik. Jy kan so op die laagwater merk met jou hak trap en as hy daar is maak hy 'n gaatjie of hy piepie sommer ôk somtyds. Dan grawe jy maar net so bietjie en jy het hom. As dit hoogwater is moet jy maar staan en jive tot jy hom hier onner jou voete voel en dan so uithaal. My manier was egter die heel maklikste. Die bakkies ry mos nou gewoonlik daar by die laagwatermerk oorlat die sand lekker hard is daar. So al wat ek doen is loop en hou mooi dop waar het die mossels gaatjies gemaak langs die spore en dan haal ek hom so uit, sonner sukkel.

En dis nou eintlik daar waar pa se kwaad begin het daai dag, want wyl ons vang toe kom die klomp Valies daar aan met hulle grênde 4x4. Sommer so op die strand langs en hulle sien die kabeljou loop, en hulle stop net daar langs ons. En hulle is raserig en gooi in. Nie lyne nie... Coke en Klippies. Sulke goed maak vir pa onrustig maar darem nog nie kwaad nie. Maar toe hulle beginte lyne ingooi en die een Valie sy lyn oor pa s'n gat staat gooi en toe boonop reken maar dis sy vis toe die lyne gekoek uitkom, toe is pa kwaad, wil sommer lyne afsny. Ma verduidelik toe maar mooi aan die man dat dit tog nie sy vis kan wees nie, want die hoek het nog 'n stuk van die mossel aan, en die vis byt vandag net aan mossel. Hy verduidelik terug op 'n minder mooi manier dat dit mos nou sommer 'n str*nt storie is, en daar moes toe maar gewag word totdat die lyne losgekoek is. Pa straal toe sommer toe die lyn aan die hoek - in die vis se bek - aan sy visstok behoort. Str*nt storie se gat hoor ek ma vermakerig sê en wonner of hierie dag sonner voorval gat verloop.

Blyk toe dat die Valies nie 'n enkele witmossel besit nie, net pilchards. Hulle probeer elke denkbare manier, maar die kaaljou byt net aan die mossel. Elke af en toe moet ek laat los waar ek sit en vis skoonmaak om eers weer te gat mossels uithaal. Nou is dit natuurlik baie makliker want die Valies se spore lê net reg. En die gaatjies blom sommer. So loop ek en haal hulle uit. So uit die kant van my oog sien ek die valies beginte dophou wat ek doen, want hulle het tot nou toe nog g'n enkele vis gevang nie en pa-hulle trek hulle een na die ander uit. En ek was reg vir hulle. Toe hulle kom vra hoe weet ek waar om te grawe, verduidelik ek dat mens net jou se twee hande so saam moet slaan, amper soos wanner jy wil gebed opsê. Dan sit jy jou se twee wysvingers vorentoe, lat jou hanne nou amper soos 'n rollie lyk. En dan loop jy maar net, as die mossel daar is sal jou wysvingers onnertoe beur, net soos dit gebeur met die waterwyser stokke. En ek demonstreer vir hulle. Ek loop so met die hanne en waar ek sien 'n gaatjie blom, lat gat ek die hanne en siedaar daar haal ek 'n mossel uit. Ek sê hulle natuurlik niks van die gaatjie nie. Hulle beginte toe hanne saamslaan en loop, lyk kompleet asof hulle mekaar hênsop, maar die hanne wil nie onnertoe beur nie, net myne doen.

En ek dink pa het sommer die kwaadgeit gevergeet, want hy en ma het so lekker gelag vir die valies wat so al op die spore rondloop en mekaar hênsop.

Wat dit was wat die Valies lat oppak het weet ek nie, ma-hulle wat so lekker gelag het, of die vis wat nie aan hulle pilchards wou byt nie of dalk het hulle besef dat 'n jong laaitie hulle nou lekker vir die fool gehou het.
Die storie het by Jakkalsputz se storte die rondte gedoen van 'n jong outjie wat wragtag kon mossels uitwys soos anner mense waterwys.

-- Leon Langhare
Vorige onderwerp: Gebed voor ete
Volgende onderwerp: Tinkie se "Big Time"
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 11:11:55 MGT 2024