Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Oom Hannes en die groot vis ('n Suidwes Visvangstorie)
Oom Hannes en die groot vis [boodskap #120687] Wo, 25 Julie 2018 05:45
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Toe ek so 12 jaar oud was, is ons een naweek elke maand Jakkalsputz toe om te gaan kamp en visvang. Een van daardie kere kry ons toe 'n kennis daar wat ook kom kamp het. Dié oom Hannes het bietjie van 'n reputasie gehad met dié dat hy 'n storie interessant kon vertel deur stertjies aan te las. In elk geval word daar toe besluit dat ons die Saterdagaand 'n galjoentjie sal braai en deur die gebraaiery, loop die gesprek dan toe ook na visvang se kant toe.

Visvangstories is altyd lekker om na te luister en dit volg baiemaal 'n spesifieke patroon: Die ou wat begin, vertel van hierdie vis wat hy gevang het, of amper gevang het. Die volgende een vertel dan van een wat gevang is of weggekom het wat darem so ietsie groter of beter is as die vorige en so gaan dit dan nou maar aan totdat die visse later só groot raak dat die verteller dit self skaars kan glo.

In die gesprek om die braaiende galjoen het dit toe ook so gegaan en die druk was al hoog toe Oom Hannes weer aan die beurt kom, want die laaste klomp visse het al reeds na vreemde verskynsels begin lyk en almal het gewonder hoe hy nou daarop sal kan verbeter. Maar Oom Hannes was reg vir die uitdaging en vertel toe hierdie een:

"Destyds toe ek nog geswot het op Stellenbosch, was daar hierdie professor wat elke vakansie geneuk het dat ek saam met hom moet gaan om hierdie vreeslike vis te gaan vang. Wel, ek het maar altyd vir die vakansies huis toe gekom en nooit saam met hom gegaan nie. Maar toe ek nou klaar was met my swottings en oppad huis toe, kry ek die prof daar in 'n kafee en hy sê vir my 'Man kom saam - jy het nie nou meer 'n verskoning nie', en ek sê dis reg so - kom ons gaan vang daardie vis.

Nou, die storie van die vis het begin jare terug toe die prof daar by een-of-ander riviermond gaan vakansie hou het. Hy sê hy het daar by dié riviermond 'n ding in die water sien "rol" en elke jaar daarna het hy weer die ding daar gesien. Hy weet nie wat dit is nie, maar dit is 'n soort vis en dis nou hierdie ding wat hy wil loop vang.

Die ou professor was 'n baie deeglike ou en het vir maande lank voorberei vir die besigheid. Hy het byvoorbeeld 'n spesiale stok en katrol laat maak en het kwart-ton staalkabel vir lyn gebruik. Die hoek is ook spesiaal ge-engineer: omtrent so 'n 5-aks stainless met 'n draad-harnas waarin 'n 10-pond kabeljou kan pas - vir die aas. Hy was oortuig hierdie "vis-ding" het spesiale behandeling nodig en 'n blik 'carbide' is in die kabeljou se pens ingedruk - net vir die wis! Hy het ook voor die tyd 'n stoel laat maak en op 'n rots by die riviermond 'n paar 5-aks boute laat in-sement om die stoel mee vas te bout - dan word ons nou vasgestrap in die stoel met leer-belte.

Jong ja, so het ons nou daar gaan kamp opsit en regmaak en dié agtermiddag vieruur vat ons toe die aas uit met 'n boot. Eers sit ek in die stoel met die stok terwyl die prof koffie maak en later ruil ons weer om en so-aan - reg deur die nag. En hier teen elfuur die volgende môre, toe vat daar 'n ding daar voor! En hy hardloop met die lyn - die rook draai uit die katrol en die prof gooi net water op. So gaan dit aan vir wat vir my gevoel het na omtrent agt-en-veertig dae en agt-en-veertig nagte. Later die middag gaan sit daar toe 'n seëvoël op so 'n eilandjie daar voor... Toe het die carbide nou sy werk gedoen en die vis doodgemaak en opgeblaas."


Niemand het na Oom Hannes se storie weer die aand 'n poging aangewend om 'n visstorie te vertel nie...

Ek was maar steeds nuuskierig oor die vreeslike vis en wou toe die besonderhede weet. Oom Hannes verduidelik toe die afmetings en dinge. Dit was toe een-of-ander haai en die ding was twaalfhonderd pond en só lank en so aan, maar die ding wat ek toe die indrukwekkendste vind, was die lewer wat blykbaar sowat 700 pond was!

Later vertel ek die storie weer vir 'n oom van my en toe ek klaar is, sê hy ewe droogweg: "Ja, die arme haai het seker ook maar 'n vergrote lewer gehad, soos ek!".

-- Dave Augustyn
Vorige onderwerp: Elkeen sterf volgens sy beroep
Volgende onderwerp: Sien jy vir Jesus?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 20:53:08 MGT 2024