Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Veiligheid & wapens » Inwoners mag nou boewe uit hul buurt hou
Inwoners mag nou boewe uit hul buurt hou [boodskap #119647] Do, 29 April 2010 21:16
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Inwoners mag nou boewe uit hul buurt hou

2010-04-27 23:22
Jeanne-Marié Versluis

Die inwoners van nege strate in die woonbuurte Eldoraigne, Pretoria,
en Wierdapark, Centurion, kan met tydelike toegangsbeheerstrukture
teen misdaad beskerm word nadat ’n skikkingsooreenkoms daaroor met die
Tshwane-metroraad bereik is.

Die skikking, wat die metroraad met die Eldoraigne-uitbreiding 18-
veiligheidsdorp bereik het, is ’n bevel van die hooggeregshof in
Pretoria gemaak.

Hiervolgens het die raad toestemming aan die veiligheidsdorp gegee om
die strukture op te rig hangende die oorweging en finale goedkeuring
daarvan kragtens die raad se beleid en die Wet op die Rasionalisering
van Plaaslike Regeringsake.

Indien die raad nie finale goedkeuring daarvoor gee nie, sal die
veiligheidsdorp binne sewe dae ná so ’n besluit die strukture verwyder
en die betrokke paaie rehabiliteer, lui die ooreenkoms.

Luidens die veiligheidsdorp se hofstukke is sy doel om die belange te
bevorder van inwoners van Eldoraigne se uitbreiding 18 en Wierdapark
se uitbreiding 2.

In 2000 is besluit om aansoek te doen kragtens dié wet om val- en
skuifhekke op openbare paaie in dié gebied op te rig om misdadigers
uit te hou.

Luidens die hofstukke het inwoners op eie houtjie hoër en elektriese
heinings, en kringtelevisiekameras aangebring, asook buurtwagte en
gewapende patrolliedienste aangestel.

Hoewel van dié maatreëls misdaad verlaag het, “het die vlak van
misdaad op onaanvaarbaar hoë vlakke voortgeduur”.

“Talle mense het die gebied verlaat en verhuis na veiliger gebiede of
die land verlaat. Dié wat agtergebly het, het in konstante vrees
geleef.

Gebiede wat suksesvol toegangsbeheer ingestel en bykans ’n 100%-daling
in misdaad beleef het binne hul afgesperde gebiede, het ’n
buitengewone styging in hul eiendomswaardes gesien...”

Mnr. Johannes Bernardus Wessels Meyer, ’n sakeman van Wierdapark en
voorsitter van die veiligheidsdorp se direksie, sê in ’n verklaring
van Januarie 1998 tot Julie 2000 het die misdaadvoorvalle in dié
gebied van 36 tot 88 voorvalle per maand gestyg.

“Dit het duidelik geword dat die polisie nie die vermoë het om misdaad
te bekamp of selfs voldoende reaksie te kan verskaf nie.”

Om die aansoek om die oprigting van die strukture te kon indien, is ’n
art.21-maatskappy gestig.

Daar is in Mei 2001 gestem oor die saak en 75% van die huishoudings in
die gebied het die voorstel gesteun.

Oorsprong:Beeld
( http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Inwoners-mag-nou-boewe -uit-hul-buurt-hou-20100427
)
Vorige onderwerp: Motoris aangerand; polisie kyk glo toe
Volgende onderwerp: Amok in Vereeniging?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 10:02:58 MGT 2024