Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Die grond van die voorvaders " deur CHARL-PIERRE NAUDÉ
" Die grond van die voorvaders " deur CHARL-PIERRE NAUDÉ [boodskap #118383] Di, 30 September 2008 14:18
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Die grond van die voorvaders
Charl-Pierre Naudé

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n naweek deurgebring
op ‘n versaakte plasie, in noordoos Mpumalanga.
In hierdie streek, word gesê, kom die hoogste
insidensie grond-tot-lug weerlig in die wêreld voor.
Die hemelruim verdonker, alles word pers en silwer
en die pletterklanke begin. Soms slaan ‘n hoë boom in vlamme uit.
My vriendin van Berlyn was saam, ons was verliefdes in dié tyd,
en baie ver van die huisie toe die storm opsteek.
Sy het verlang na haar eie stad, met sy kleed van droewe as…
In die wandeling kon ons voel hoe die lading in ons hare
en in ons klere oplaai, hoe die granietblokke
opstapel, in ‘n onsigbare wêreld.
Die grondpaadjie het gekronkel na ‘n oop plato,
‘n
hoë grond
waar die woedende hemele al’s doodslaan wat beweeg.
Die gerug, van ‘n ou luiperd wat daar rondsluip….
Ons hartkloppe was hoorbaar, maar te laat vir omdraai.
Vroeër jare was daar ‘n halfweg hut. Peule het geritsel.
‘n Blikkerige getingel, van amulette in die bome.
Verby ‘n kopbeentjie wat gryns op ‘n stok.
“Jy weet daar’s ‘n vloek hier,” sê ek; ontsenu, in ‘n grap.
En net daar, vries sy: “Ons moet terug!”, steek haar arm uit –
die fynhaartjies regop, die wortels wat trek; pluk aan my
en slaan voet in die wind daardie langbeenmeisie
soos ‘n eksotiese volstruis oor die voorvadersgrond
van ‘n uitgedelgde Afrika-stam die swart verskroeide stoppelland
bloedgrond haar rok wat opwaaier soos ‘n waansinnige blomkroon,
die kelkie wat onder flits. Ek agterna. Sopnat.
Die huisie
bereik.
Ons kerse het nog gebrand. Maar die plek was ‘n gemors:

die tafeldoek ‘n ent gesleep, glase omgestamp, borde op die vloer.
‘n Wilde veldreuk het in die vertrek gehang. ‘n Wind, dieper huis-
in.
“Maak alles toe! “ skreeu ek. “Gou!” beaam sy terug.
Haastig sit ons die deurklinke op en haak die luike toe.
Die reën het swaar uitgesak. Hael en wind, blitsende donder.
Veilig oplaas… Of nie? Daar het ons staan en drup,
met glimlagte breed soos seilbote wat te water gelaat word.
Die aard van toordery, in die wegvlug loop jy daarin vas…
En as ek nou daaraan dink, het die onderdak ons nie gespaar nie.
Ons was steeds op voorvadersgrond, met al sy kaprise.
Enige twee minnaars nakend saam, is op voorvadersgrond.
Die aasdier? … dit was óns, die mens, wat bedel om versorging.
En
die weerlig?
Die laatmiddag se bliksemskigte –
wat met ons gebeur het met ons tuiskoms
op die oopte van die hart, waar geen mens kan wegskuil nie?
Dit was net genade. Bloot genade.
Vorige onderwerp: Uit " Lewendood " deur BREYTEN BREYTENBACH
Volgende onderwerp: " Weer in die Ark" deur TOTIUS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 18:26:07 MGT 2024